Oop mangate, gevandaliseerde padtekens en die Munisipaliteit

Die oop mangat waarin ‘n kleuter na bewering in Maart vanjaar geval het. Die deksels van mangate word summier gesteel kort nadat dit vervang word.

THABAZIMBI – Geen stoptekens, oop mangate, gate in die pad, geroeste en gevandaliseerde padtekens, geen straatnaambordjies… die lysie wat Die Kwêvoël vandeesweek opgestel het om ‘n idee te kry van die toestand van Thaba-padtekens is lank, sommer baie lank.

In ‘n vorige berig oor vandalisme, het mnr Johnny Motaung, hoof van verkeer en veiligheid van Thabazimbi Munisipaliteit, gesê dat die vervanging van slegs een padteken sowat R150 beloop, afhangende van die grootte en aard van die padteken.

Volgens Motaung word mangat-deksels gesteel, so vinnig as wat dit vervang word.

Die munisipaliteit wend dus eerder hul beskikbare fondse aan vir prioriteit dienste, soos om slaggate te herstel. Vandeesweek is ‘n hele span werkers in Steenbokstraat doenig met die herstel van slaggate.

‘n Klaer het Die Kwêvoël atent gemaak oor die storting van tuin- en huisvullis in onbewoonde dele van die dorp. Inwoners ry doodluiters daarheen, sonder enige voorbehoud en stort hul vullis.

In ‘n brief deur DA-raadslid Franco Loots (sien bladsy 4), verduidelik hy hoe maklik dit is om vullis op ‘n wettige manier te verwyder. Hy doen ‘n beroep op Thabazimbiërs om ‘n trots in die dorp te ontwikkel wat hulle twee keer sal laat dink voordat hulle willens en wetens hul rommel op enige denkbare, maar onwettige, plek in die dorp sal strooi.

Nog ‘n kopseer vir die plaaslike regering is die koperdiefstal in een van Thabazimbi se onbewoonde Uitbreidings. Derduisende rande se skade word aangerig as kabels gesteel word. Al is die waarde van die gesteelde kabel baie min, kan dit honderde duisende rande se skade veroorsaak. Dit kan ook veroorsaak dat ’n hele substasie beskadig word. Diefstal is ‘n strafbare oortreding, so ook vandalisme.