Nasionale Protea Span oefen by Northam Platinum Hengel Klub

Die Nasionale Protea Span het op 18 en 19 Junie by die Northam Konsentrator Dam kom oefen ter voorbereiding vir die Wêreld Spele, saam met die span is ‘n paar lede van Northam Platinum Hengelklub. Agter vlnr: Geff Eekhout, Andre Bezuidenhout, Jumbo Willemse, Gys van der Westhuizen, Helgaard Holtshouzen en Louis Steyn. Voor vlnr: Chris Scheepers, Wickus Pretorius, Maurits Claasen, Jaco Geldenhuis, Tokkie Burger en Nico Geldenhuis.

NORTHAM – Die Nasionale Protea “Feeder Angling” span het die naweek van 18 en 19 Junie kom oefen by die Konsentrator dam van Northam Platinum myn om voor te berei vir die wêreld spele wat in Augustus in Italië gehou gaan word.

Die Konsentrator dam vergelyk goed met Europese damme in oewer en diepte. Die spanlede het op Vrydagaand vanoor Suid-Afrika in Northam arriveer en met groot dankbaarheid ingetrek in die akkommodasie wat die myn bestuur aan hulle voorsien het.

Almal het na hul koms damwaarts gekeer waar daar gebraai en oor die nuwe faset van hengel gesels was. Dit is die eerste keer dat hierdie faset naamlik “feeder angling” ‘n deel uitmaak van die wêreld spele. Dit is basies dieselfde as oewer hengel wat Suid-Afrikaners ken, met ‘n klein verandering deurdat daar net met een stok en een hoek gehengel mag word. Die grootste hoek wat gebruik mag word is ‘n daichi 0.8 of ‘n nommer 16 vlieg hoekie. Daar mag ook glad nie van ‘n polisieman soos ons dit ken gebruik word nie, die stok waarmee gehengel word se punt is baie sag en dit wys dan as daar ‘n byt aan die aas is. Die kompetisie duur ook net vir vyf ure waar oewer hengel oor ‘n tydperk van agt ure gehengel word.

Die oefening het op Saterdag om 09:00 tot 14:00 saam met vyf van Northam Platinum hengelklublede plaasgevind. Die Protea span het egter agter gekom dat daar ‘n paar tekortkomings in hulle toerusting is. Een van die probleme was dat die “feeder” stokke se punte baie sag is en hulle gesukkel het om afstand te kry.

Sondagoggend is die hengel voortgesit vanaf 07:00 tot 12:00. Die Protea span het ‘n paar aanpassings gemaak in hulle toerusting en die vis lekker aan die byt gekry. Hulle het aan die einde van die dag ‘n totaal van 67Kg vis oor die twee dae gehengel.

Northam Platinum Hengel Klub wil die Protea span bedank vir die tyd wat hulle aan die juniors van die klub afgestaan het op Saterdagoggend. Hulle het die juniors met ‘n hele paar wenke gehelp.

Die Hengelklub wens hulle alle voorspoed toe vir die wêreld spele en hoop dat hulle die klub sal trots maak. Voorts wil die klub almal bedank vir die reëlings wat gemaak is om dit vir die Protea span so gemaklik as moontlik te maak vir die naweek.