Derdeplek vir Thaba boogskuts by Limpopo Liga

Die skuts van Thabazimbi Boogklub wat aan die Limpopo Liga te Phalaborwa deelgeneem het, agter vlnr: Callie Botha, Desré Pretorius en Vincent Lemmer. Voor: Melodie Botha en Hennie Bruwer. Elkeen het met 'n medalje huis toe gekom.

PHALABORWA – Phalaborwa se boogskuts het tydens die Limpopo Liga op 25 Junie weer gesorg vir die Baan van alle Bane.

Volgens die vyf skuts van Thabazimbi Boogklub wat die kompetisie bygewoon het, was dit baie uitdagend met die heuwels op en af in die sowat 5 km lange baan, alhoewel almal dit geniet het. Die klimaat in Phalaborwa was heerlik en kon die skuts die dag aanpak sonder baadjies. Die gees was ook net so warm en almal het welkom gevoel. Na die kompetisie was daar ‘n ‘Fun shoot’ waarvan Desré Pretorius die wenner was. Elkeen van Thaba het ook ‘n prysie ontvang. As geheel het Thabazimbi Boogklub derde geëindig in die Limpopo Liga. Dis ‘n groot prestasie. Baie geluk aan al die skuts.