.22 skyfskietskuts Thabazimbi se trots

Die aangepaste .22 skyfskietgeweer is amper nie meer as standard .22 herkenbaar nie.

THABAZIMBI – Thabazimbi tak van die Suid Afrikaanse Jagters en Wildbewaringsvereniging het groot rede tot trots. In snerpende koue van slegs 6?C het .22 skyfskietdeelnemers hul staal gaan wys op die Noordwes .22 teiken-geweer kampioenskappe wat op 24 en 25 Junie te Magaliesburg aangebied is. Die koue het beslis nie die Thabazimbiërs ondergekry nie.

Riëtte Steenekamp het die Dames Drie Posisie Skyfskiet verower. Hendrik du Plessis het in die mans B klas deelgeneem, en Naas du Plessis in die mans C klas. Beide broers het ‘n tweede plek in hul afsonderlike klasse behaal. Pa Gert du Plessis, het op sy beurt ‘n eerste plek behaal in die F-klas. In die Hunter klas was dit Willem Minnaar wat ‘n derde plek verower het.

Hierdie groepie neem gereeld deel aan skietkompetisies wyd en suid oor ons land, en behaal telkens die bo-kant van ‘n punte leer.

Die sport van .22 teiken skiet word verdeel onder verskillende klasse om meer mense die geleentheid te bied om die genot mee te maak. Daar is die olimpiese dissiplines wat bestaan uit ‘n lê, sit en staan posisie vir die met meer ernstige toerusting.

Dit is verstommend om te sien net hoe ver daar gegaan sal word vir die perfekte skoot. Om die gemak en stabiliteit te verseker is daar omtrent niks aan hierdie gewere wat nie verstel of verander kan word nie.

Dan is daar ook ‘n F-klas waar die swaarloop .22’s met teleskope groepeer word, en die Hunter klas om die gewone .22’s met basiese jagveld teleskope te akkommodeer. Só kry elke .22 geweer en sy baas sy plekkie in die kompetisies.

Met die geniepsige styging van jaggeweer-patroon-pryse, is die .22 ‘n logiese uitkoms vir wapen-entoesiaste om nog die lekker van skiet mee te kan maak. Weg is die dae van net blikkies omskiet. Die sport het nou ernstig en groot geword, vir die wat ‘n passie daarvoor het!

Belanstellendes is welkom om nader kennis te maak met die lede van die Thabazimbi Jagters en Wildsbewaringsvereniging en só al die plesier met hul mee te maak.