Wrrroom op die brrr dag

Die sowat 50 motorfietsryers wat opgedaag het vir die Bikers Blanket Run op Saterdag 11 Junie. Heelwat klerasie, komberse en nie-bederfbare voedselitems is ingesamel vir die minder bevoorregte gemeenskapslede.

ROOIBERG- Ongeveer 50 motorfietsryers van so ver as Nelspruit, Witbank, Randburg, Pretoria, Thabazimbi en selfs Potchefstroom het opgedaag vir die Bikers Blanket Run op Saterdag 11 Junie.

Die koue het nie die brawe motorfietsryers in hul leeruitrustings afgeskrik nie en volgens een van die organiseerders, Gisela Joubert, was die fees ‘n reuse sukses en is hulle bo verwagtinge geseën met klerasie, komberse, nie-bederfbare voedselitems en speelgoed vir diegene wat nie so bevoorreg is nie.

Dit is in ontvangs geneem deur die Leeupoort Aanbiddingsentrum, en sal onder hulle toesig en met wysheid uitgedeel word. Die jongspan het die geleentheid gekry om saam met ‘n oom op die groot brullende enjins te klim en ‘n draai te ry.

Selfs Baby Boom en Winnie the Pooh was ook daar en het saam met Debbie Viljoen, geliefde gospelsangeres van Thabazimbi, en al die kinders lofsange gesing.

Die fondse wat deur die verskillende stalletjies die dag ingesamel is, is spesifiek vir die kinders van die omgewing wat nog nooit in ‘n dieretuin was, in ‘n fliekteater soos Ster Kinekor gesit en ‘n restaurant ‘n melkskommel in die stad gedrink het nie.

Die organiseerders is nou opsoek na ‘n groot genoeg bus wat ongeveer 40 kinders kan vervoer om hierdie droom te bewaarheid. Daar word ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om ‘n hand uit te reik na hierdie kinders om sodoende dié groot wens te vervul. Kontak Gisela by 082 598 4334 indien u kan help.

Die organiseerders gaan volgende jaar poog om hierdie in ‘n Kinderfees saam met die motorfietsryers te ontwikkel, wat ‘n jaarlikse instelling gaan word.

Leeupoort Aanbiddingsentrum bedank die gemeenskap vir hul bydraes en hulp om die dag ‘n sukses te maak asook die Here wat alle eer verdien.