Volkome sigbare maansverduistering in Suid-Afrika

THABAZIMBI – ‘n Rooikoper-, amper oranje, maan het Suid-Afrikaners Woensdagaand, 15 Junie, tydens ‘n algehele maansverduistering betower. Die verduistering het teen 20:20 begin en die maan was vir sowat 90 minute heeltemal donker.

Thabazimbi en omliggende gebiede kon die naglug bewonder sonder dat ‘n wolk hul pret bederf. Volgens inwoners wat hul teleskope afgestof het vir hierdie geleentheid was die volle maansverduistering ‘n natuurverskynsel om te aanskou.

Hierdie verskynsel wat voorgekom het omdat die maan in die aarde se skaduwee, bekend as die umbra inbeweeg het, sal weer in September 2015 plaasvind.
Tydens die algehele verduistering het die maan rooikoper vertoon wat veroorsaak is deur die opbreking van blouligstrale deur partikels in die lug. Slegs rooilig-strale het dus van die son af op die maan geval.