Groot opkoms by Naboomspruit Rodeo

Juan Dippenaar se wang is gesny nadat ‘n bul die hek oopgestamp het tydens die Rodeo op Naboomspruit. Geen diere is tydens die Rodeo beseer nie.

NABOOMSPRUIT – Met die gedagte aan die Geyerspan se tragedie het Suid Afrikaanse Professionele Rodeo & Cowboy Vereniging (SAPRCV) stof in die oë van hul opponente, naamlik The Barn/Rodeo SA geskop by die Windpompfees te Naboomspruit op 16 tot 18 Junie.

Selfs die DBV waarvan daar elf verteenwoordigers in uniform en talle “under cover” agente getel is, kon nie fout vind met die organisering en uitvoering van hierdie Rodeo nie, en moes met hul spreekwoordelike stert tussen hul bene wegsluip.

Die eerste item wat die DBV wou stop, met ‘n ou Vrystaatse ordonnansie wat die sport verbied, was ‘n Windhond naelloop.  Gewapen met ‘n geldige lisensie uitgereik deur die plaaslike landdros, het mnr Koos Dippenaar die rondte los hande gewen. Die naelloop het voort gegaan met die vyf pragtige honde, al die pad van die goeie plat Vrystaat. Daar was slegs een verbod, en dit was dat daar nie geld verwed mag word nie.

Met die reuk van braaivleis, pap en kaiings en talle smulgoed en die bosveld agtergrond het William en Bonnita Bondesio die Rodeo met hul perd en Spaanse dans passies geopen. Slegs een item is aangebied naamlik “Bull riding” en het die ruiters die toeskouers hul staal gewys. Daar is ook foto’s van alle kante deur die DBV geneem om klem op die flank band (Bucking strap) te lê, maar selfs daar, kon geen fout gevind word nie. Twee bulle wat beseer daar aangekom het, en vier wat te klein was, is onttrek. Een bul is ook onttrek omdat dié te mak was.  Daar was verskeie jong manne en dames uit die publiek wat ook hul slag gewys het. Een publieke deelnemer se kommentaar was: “Slegs vyf sekondes toe vreet ek grond, maar dis lekker!” Almal is dit eens dat dié sport moontlik groter as rugby kan word. Die aand is afgesluit met sangers soos Juanita du Plessis, Robbie Wessels, Thys die Bosveldklong, Monique Foxx en verskeie ander kunstenaars.

Op Saterdag 18 Junie, het die Rodeo ook dan die dag se kampioene opgelewer met Kylon Liversage (Delmas) in die eersteplek gevolg deur Hannes van Niewenhuizen (Rayton) tweede en Casper Beukes (Pretoria) derde plek. Beserings was ook nie uitgesluit nie en het ‘n bul die hek oop gestamp en die wang van Juan Dippenaar, het ‘n sny opgedoen. Vier nuwe deelnemers het dan ook by SAPRCV aangesluit.

Die volgende Rodeo vir die Limpopo streek word dan op 30 Julie tydens die Thabazimbi Landbou en Nywerheidskou aangebied,  gevolg deur ‘n Groot Kampioenskap op 24 September, ook te Thabazimbi.

Tom Prinsloo