Burgemeester lê blits besoek af aan munisipale satellietstasies

ROOIBERG: Die pas ingehuldigde burgemeester van Thabazimbi, raadslid Patricia Mosita het verlede Dinsdag ‘n onaangekondigde besoek afgelê by die dorpsraad se satellietstasies op Northam, Leeupoort Vakansiedorp en Rooiberg. Mosita is vergesel deur die raad se speaker pastoor B.S. Motha en 13 ander raadslede.

Thabazimbi dorpsraad het 22 raadslede en is verteenwoordigend van die ANC, VF+ en die DA. Raadslid Mosita het vanuit die staanspoor die amptenare dit op die hart gedruk en beklemtoon dat gewoontetjies soos vroeg van diens gaan, laat kommery by die werk en onnodige siekverlof notas wat ingehandig word, voortaan taboe is.

Mosita het gesê dat dit haar doelwit is dat elke kieser in die kiesafdeling moet weet wie sy/haar verteenwoordiger op die raad is. In dieselfde asem het sy beklemtoon dat die amptenary kennis moet neem wie die nuwe raadslede is. Sy het besondere sterk klem gelê op dienslewering en dit haar doelwit gemaak om te sien dat die munisipale-amptenary hulle werk reg en flink doen.

Sy het gesê dat die munisipaliteit se onderskeie afdelings se portefeuljes in plek gestel is en gereed is om aan die werk te spring. Sover vasgestel kon word is dit die eerste keer sedert 1994 dat ‘n burgemeester die “ongewone” stap geneem het om die raadslede na al die satellietstasies te neem.

Raadslid Neels du Preez, verteenwoordiger van die VF+ het aan Die Kwêvoël gesê dat hy aangenaam verras en ingenome is met die burgemeester se handeling. “Sedert ek op 3 Desember 1999 as raadslid begin dien het is hierdie besoek ‘n absolute eerste. Ek het spanne hoop en vertroue dat die huidige raad die munisipale dienste sal regruk en dat die belastingbetalers van Thabazimbi kan uitsien na ‘n raad wat glad en korrupsieloos sal funksioneer”.

Tobie Lombard