Aantreklike pryse te wen by Sonskynkarnaval

LEPHALALE- Aantreklike pryse word by die Hervormde Gemeente Ebenhaeser, Ellisras (Lephalale) se jaarlikse Sonskynkarnaval aangebied.

Dit vind op Saterdag 30 Julie vanaf 08:00 tot 16:00 by die kerkterrein plaas. Die tema vir die Karnaval is die uitbeelding van spreekwoorde.

In die Karnavalkompetisie word ‘n weeklange vakansie vir ses persone by Ramsgate aan die Natalse Suidkus as eerste prys gebied. Die naaswenner ontvang ‘n naweek vir vier persone by die Leeuplaas, Mama Tau, terwyl ‘n naweek vir twee persone by Bateleur-Safari as prys wink. Die koste van die kaartjie beloop slegs R50.

Wat die jagkompetisie betref, word ‘n koedoe, twee rooibokke en twee vlakvarke vir twee jagters vir  twee nagte as eerste prys aangebied. Die naaswenner kry twee blouwildebeeste en een vlakvark vir twee jagters vir twee nagte. Die derde pryswenner ontvang een rooibok. Die koste per kaartjie beloop R100.

Daar is vanjaar weer die slagoskompetisie. Die wenner ontvang die slagos wat geskenk is deur Mieta en Kobus Erasmus van Jacmi Simmentalers. Die koste per kaartjie is R30.

Die prystrekkings vind gedurende die dag van die basaar plaas. Benewens die kompetisies is daar ook heelwat vermaak vir die jongklomp. Vaardighede kan ook ten toon gestel word by die skyfskiet. Daar is aantreklike pryse vir wenners en naaswenners.

Die Jodelkompetisie beloof om vir groot opwinding en spanning te sorg. Hier kan die talentvolles, die hoopvolles, die brawes, die optimiste en die fortuinsoekers hulle vernuf kom toon of eerder dit laat hoor. Inskrywings is gratis. Die wenner ontvang R1000 vir sy of haar suksesvolle poging.

Daar vind ‘n Toutrekkompetisie op die Karnavaldag plaas. Spanne van die verskillende kerke is uitgenooi om mee te ding. Krag, uithouvermoë en vernuf is die wagwoorde vir die spannende geleentheid. Die eerste prys is nie minder nie as R800.

Die gemeente is tans hard aan die werk om die vee en wild te bewerk. Wors, droëwors, maalvleis, beesvleissnitte en biltong word in honderde kilogramme hanteer om ook op die dag van die Karnaval verkoop te word.

Navrae kan gerig word aan die skriba, Johan van Vuuren by 014 763 2703 of 082 692 7855. Ds en mev Kalfie Loots wat vanaf Maart 2010 in die gemeente werksaam is, kan ook by 082 656 6677 gekontak word.

Ds Kalfie Loots