Sonskynkarnaval is op pad

LEPHALALE – Daar word met groot verlange en verwagting uitgesien na die Sonskynkarnaval wat op Saterdag 30 Julie 2011 by die Hervormde kerkterrein te Lephalale plaasvind.

Gemeente Ebenhaeser is die gashere. Dit geskied vanaf 08:00 tot 15:00. Die gemeenskap word hartlik uitgenooi om in die pret en plesier te gaan deel.
Eetgoed soos pap en kaiings, tuisgemaakte wors, kerrie en rys, pannekoek, jaffels, vetkoek, basaarpoeding en vele meer sal beskikbaar wees. Heerlike gebak gaan aan die orde van die dag wees.

Honderde kilogram wors, biltong en droëwors sal ook te koop aangebied word. Sappige beesvleissnitte gaan ook op die tafel wees terwyl die wildspasteie wag om gekoop te word.

Daar is ook verskeie stalletjies soos groente, kultuur, kwekery, boeke, naaldwerk en juwele. Vir die kleingoed is daar die altyd gewilde tombola, ‘n springkasteel en talle ander vermaak. Die groot bederf van smullekker soetgoed is verseker ook by die Karnaval. As jou knieë lam en voete seer is, kan jy by die teetuin ontspan waar vingerleklekker verversings beskikbaar is.

Die revuegroepe van verskillende skole gaan die geleentheid opvrolik. Daar gaan ook heeldag jolige musiek wees. Daar is ook ‘n Jodelkompetisie wat R1000 aan die wenner besorg. Diegene wat sy of haar vaardigheid wil laat hoor, kan dit gratis en verniet kom doen. Die gaskunstenaar met die geleentheid is die bekende Jammies Jamneck en die vrolike Pieter Koen.

Volgende keer sal die gemeenskap ingelig word rakende die verskillende kompetisies.