Rooiberg se Winterprojek kort bydraes

ROOIBERG – Die Vrouediens van Rooiberg doen ‘n beroep op die Thabazimbi-gemeenskap om te help met die voorsiening van warm klere vir leerders en kos en komberse vir die bejaardes in Rooiberg.

Volgens die koördineerder van die Vrouediens se Winterprojek, Philip Nel, blyk dat die behoefte groter geword het as in die verlede. Daar is sowat 210 kinders, wat deur onderwysers geïdentifiseer is, wat warm klere benodig. Kinders van alle rasse trek voordeel uit die Vrouediens se Winterprojek.

In die verlede is fondse ingesamel deur verskeie projekte, maar hierdie jaar is slegs ongeveer die helfte van die fondse wat benodig is, ingesamel. Sowat R20 000 word benodig vir die aankoop van warm skoolklere. Daar word ook komberse en nie-bederfbare kos benodig vir bejaarde persone.

Bydraes kan per E-oordrag gestuur word aan Vrouebelange, ABSA Thabazimbi, rekeningnommer 924 695 6244. Dui aan dat dit vir die Winterprojek is. Bydraes, hetsy geld, komberse of kos kan ook by Philip Nel persoonlik besorg word. Sy telefoonnommers is 014 734 1884 of 083 394 0140.

Hennie Pauw