Perlado wyne tref Suid-Afrika

Pieter moes hom maar van Die Kwêvoël en Shaun hom van die brouery loswikkel om self in te spring om die ete gereed te kry.

THABAZIMBI – Tydens ‘n baie geslaagde wynproefunksie is ‘n reeks van drie Perlado wyne vanuit die Spaanse provinsie, Avila, sowat 85km buite Madrid, in Thabazimbi bekendgestel.

Die geleentheid is by Dewside Restaurant aangebied en die restaurant was gepak met gretige wynproewers. ‘n Ete het oolk deel uitgemaak van die wynproefunksie, ‘n eerste vir Dewside Restaurant, wat eintlik beter bekend is vir hulle bier, Dewside Ale, wat op die perseel gebrou word.

Min mense besef dat Spanje duisende jare gelede reeds die wynsak van Europa was. Hulle gebruik steeds hul eie kultivaars om die wyne te vervaardig. Die wynbedryf het hiervandaan na Italië en Frankryk versprei en dit is eers maar in die 1980’s, na die val van Generaal Franco as diktator van Spanje, dat die Spaanse wynbedryf weer tot sy reg begin kom.

Hierdie wyne is baie populêr in Spanje en dit was duidelik dat veral die jonger garde, nog nie gereed is vir die droë wit en rosé wyne nie. Die Perlado rooi, met sy Baronne tipe smaak, het heelwat byval gevind. Wat uniek is is dat al hierdie wyne almal jong wyne is wat nie in vaatjies belê is nie.

Almal was dit ook eens dat die Rosé heerlik was as dit met baie ys bedien is, ‘n duidelike bewys dat wynproewers besig is om hul opvattings jeens die drink van wyn en die gesellige verkeer in die geselskap van wyne te verander. Alhoewel daar steeds riglyne verskaf word met watter tipe van wyn by watter disse bedien moet word, is die verbruiker besig om sy eie stempel op die wynkultuur af te druk met sy eie keuse van wyn wat hy verkies om te drink, ongeag die dis wat voorgesit word.

Hou Die Kwêvoël gerus dop vir advertensies van verskaffers van hierdie unieke reeks wyne. Vir meer inligting oor die Perlado reeks wyne asook bespreking van funksies of  konferensiefasiliteite by Dewside Brouery en Restaurant, is u welkom om Barbara Botha by 082 951 8232 te skakel.