Magic vir R2,3 milj

Die lede van Xtreme Game Auction is vlnr: Wiaan van der Linde van Wintershoek, Tina de Jager van Bushveld Game Capture, Pieter Ernst van Bona-Bona en Godfrey Moagi van Moja Moja.

Die heel eerste wildveiling wat deur Xtreme Game Auction by Bona-Bona naby Wolmaranstad aangebied is, het ses nuwe SA rekords gelewer waarvan die Matetsi Swartwitpensbul, Magic (hooffoto), wat teen R 2,3milj verkoop is, een van die hoogtepunte was. Die vorige rekordprys vir ‘n swartwitpensbul was R475,000. Ongeveer 600 mense het die veiling bygewoon.

Die verkopers was Bona-Bona wat behoort aan mnr Pieter Ernst en sy seuns Pieter en Danie, Buschveld Game Capture wat behoort aan Mev Tina de Jager, Wintershoek Safaris wat behoort aan mnr Wiaan van der Linde en Moja Moja wat behoort aan mnr Godfrey Moagi.  Hulle leuse is “the desire to own”. Soos verwag was die wild ook van  hoogstaande gehalte met ‘n groot verskeidenheid spesies.

Mev Tina de Jager beskik oor seker een van die allerbeste wildvang spanne in Suid-Afrika en het sy reeds oor ‘n lang tydperk haar daarop toegespits om slegs die allerbeste Swartwitpens kudde op te bou. Sy het dan ook die Swartwitpensbul aangebied met die uitsonderlike horinglengte van 48¾” wat verkoop is aan mnr Pieter Ernst.

Mnr Wiaan van der Linde is ook ‘n wildboer wat reeds baie jare hom daarop toespits om buitengewone Skaarswild te teel.  Sy bekende Wintersveld Buffels was sterk in aanvraag. Die hoogste prys van R 850,000-00 vir ‘n bufelvers is gekoop deur die baie bekende wildboer mnr Piet du Toit wat soos op alle prominente veilings ‘n groot impak op die veiling gemaak het.  Sy Geel en Koper Blesbokke sowel as Kalahari Springbokke is ook vir SA rekordpryse verkoop. Die ander rekordpryse was (vorige rekord):

Geel Blesbok R 13 000 (R 6 500), Koper Springbok R 9 000-00 (R 8 000), Kalahari Springbok R 2 500 (R 1 250), Goue Gemsbok R 400 000 (nuwe prys) en Swart Springbok R 4 250 (R 3,600).

Van die ander gemiddelpryse was: Blesbok – R1 075, blouwildebees – R1 200, gemsbok – R5 100, eland – R6 100, koedoe – R2 500, njala – R8 598, rooibok – R1 541, Burchell sebra – R6250, waterbok – R4 750 en Kalahari springbok – R2 500.

Van die ander diere wat ook op die veiling aangebied is het ingesluit: Leeus, kameelperde, buffels, basterhartbees, witrenosters, swart en koper springbokke, ‘n swart rooibok en ‘n tierboskat asook goue gemsbokke.