Eerste brande van die seisoen

THABAZIMBI – ‘n Oppervlak van sowat 700 ha het op Dinsdag 7 Junie in die Marakele Nasionale Park op die plaas Karriehoek afgebrand.

Die brand het vermoedelik begin toe ‘n padskraper, wat besig was om paaie te skraap, ‘n klip laat opskiet het teen ‘n ander een en ‘n vonk veroorsaak het.
Die brand het in die berge versprei toe ‘n sterk wind begin waai het. Veldwagters van die Park en brandbestryders van Working on Fire, het die vuur geblus voordat  die sowat 6mm reën die aarde natgemaak het.

Volgens Kenneth Mabila, Bewaringsbestuurder van Marakele Nasionale Park, gaan daar binnekort begin word met die brand van brandbane binne die Park. Vir vyf weke tussen 22 Junie tot 30 Julie sal hulle besig wees met die maak van brandbane langs die grensdrade sowel as in stroke binne-in die Park.
Hy het versoek dat die publiek en aangrensende grondbewoners in kennis gestel word van die beplande brande. Hy het ook die versekering gegee dat die Thabazimbi Brandbeskermingsvereniging in kennis gestel is en dat die brandstroke gemaak word met in agneming van die Vuur Gevaar Indeks oftewel die FDI (Fire Danger Index) wat aandui wanneer die klimaatstoestand nie geskik is vir die maak van brande nie.

Behalwe die Marakele-brand was daar reeds drie ander onbeplande brande in die Thabazimbi-omgewing, onder andere by Smash Block en naby die Rhino-myn. Die verbod op die maak van brande begin op 1 Augustus vanjaar.

Intussen is ‘n baie suksesvolle program in Rooiberg aangebied op 9 Junie wat basiese brandbestrydings-opleiding verskaf aan plaaswerknemers. Sowat 50 mense het die kursus bygewoon.

In terme van die Brandwet moet daar aan sekere minimum vereistes  voldoen word deur grondeienaars en –bestuurders ten opsigte van brande. Alle plase en plotte moet die minimum toerusting hê, brandbestrydings-opleiding verskaf aan werknemers en beskermende klere verskaf.

‘n Lid van die Brandbeskermingsvereniging se Uitvoerende Komitee, Jan Viljoen, het die afgelope maand bedank uit die komitee en as sektorleier van die Sentrum-gebied. Die bedanking is uit protes teen die gebrek aan samewerking deur die Munisipaliteit se Fire Protection Officer (FPO), Johnny Motaung.
Volgens Viljoen skryf die wet voor dat die hoof van ‘n munisipaliteit se Beskermingsdienste, in Thabazimbi se geval Motaung, as die FPO aangewys word. Sekere verantwoordelikhede word aan hierdie posisie toegewys. Dit is ‘n onhoudbare situasie wanneer sekere verantwoordelikhede nie nagekom word nie. Ten spyte van verskeie vertoë tot die Munisipaliteit, het geen verbetering ingetree nie, sê Viljoen.

Hennie Pauw