Bekende Thabazimbiër tydelik verlam na motorongeluk

Jaco se bakkie nadat hy ‘n vragmotor se wiel rakelings getref het, beheer oor die bakkie verloor het en telke male gerol het. Jaco moes met die lewenskake uitgesny word.

THABAZIMBI – ‘n Motorongeluk op Saterdagoggend 11 Junie, net buitekant Thabazimbi, het ‘n inwoner van Thaba, Jaco Botha (35) tydelik verlam gelaat.

Jaco was onderweg na Rustenburg toe hy vermoedelik met sy selfoon of radio doenig geraak het en ‘n aankomende vragmotor se wiel rakelings getref het.

Die momentum het die Mazda BT-50 waarmee Botha gery het etlike male laat rol. Jaco, wat nie sy veiligheidsgordel gedra het nie, het heen en weer in die voertuig getuimel en op die agterste sitplek te lande gekom.

Henk Havenga van Thabazimbi Krisisbeheer en koördineerder van Kumba Iron Ore se nooddiensspan, was onderweg na Ben Alberts met die myn-ambulans en was bykans minute na die ongeluk op die toneel. Havenga het Botha gestabiliseer en met die hulp van ander nooddienspersoneel vir Botha na Thabazimbi Mediclinic vervoer waarna hy per helikopter na Ferncrest in Rustenburg geneem is. In ‘n telefoniese gesprek met Jaco se ma, mev Gerda Botha, op Dinsdag 14 Junie het sy bevestig dat Jaco wel tydelik verlam is nadat sy sewende nekwerwel gebreek het en drukking op die spinale koord geplaas het. Volgens mev Botha is die familie baie positief en het die hoop uitgespreek dat Jaco weer eendag sal kan loop. Jaco was steeds op ‘n ventilator en onder sedasie, maar sou teen gister, Donderdag 16 Junie moontlik van die ventilator gespeen gewees het. Jaco het ook ‘n skedelfraktuur opgedoen, maar geen breinskade nie. Sy herstel en rehabilitasie kan egter maande duur. Sy gesin bedank almal se ondersteuning en gebede asook Henk Havenga en die nooddiensspan wat so vlugtig op die toneel was en geveg het vir Jaco se lewe.