Baba- en Kleuter fotokompetisie by Thabazimbi Landbouskou

‘n Foto deur Christine van Snow’s Action Photography. Christine sal met haar fotografiese vaardighede seker maak dat al die deelnemers van die kompetisie die beste moontlike kans staan.

THABAZIMBI –Die jaarlikse Landbou- en Nywerheidgenootskapskou vind weer oudergewoonte aan die einde van die winter op Vrydag en Saterdag 29 en 30 Julie, plaas.

En wat is ‘n skou sonder ‘n “uitstalling” van die mooiste babas, peuters en kleuters? Christine van Snow’s Action Photography en The IT Ouenz behartig hierdie jaar die organisering van die gewilde kompetisie sowel as die fotografie-gedeelte met die tema Cow boys en Cow girls.

Die inskrywingsvorm sal vir twee weke agtereenvolgend eksklusief in Die Kwêvoël gepubliseer word. Dit is nou vir die mamma’s wat eers nie wil inskryf nie, en dan nadat ouma en oupa hul oortuig, wel ‘n inskrywingsvorm wil bekom.

Christine maan die ouers om daarop te let om hul kinders in die regte ouderdomsgroep in te skryf, verkeerdelike inskrywings sal lei tot diskwalifisering. Slegs een oorspronklike inskrywing per deelnemer word toegelaat, met ander woorde, indien ‘n ouer drie kinders wil inskryf, moet hulle drie oorspronklike inskryfvorms hê. Inskrywingsvorms sal op Vrydag 24 Junie en 1 Julie in Die Kwêvoël gepubliseer word. Indien u ‘n koerant misloop, kan ‘n koerant teen R6 by Die Kwêvoël kantoor in Tweedelaan 17, Thabazimbi verkry word.

Elke inskrywingsfoto moet deur Snow’s Action Photography geneem word te Landbouskougronde se Trollope saal. Die drie dae waarop foto’s geneem sal word is 7, 8 en 9 Julie, die tye is vir 7 en 8 Julie vanaf 10:00 tot 17:00 en op 9 Julie vanaf 10:00 tot 18:00. Bring u inskrywingsvorm tesame met die inskrywingsfooi van R100 na die fotosessie. Die inskrywingsfooi van R100 sluit ‘n A4 kleurfoto in. Elke deelnemer se foto sal in Die Kwêvoël gepubliseer word op Vrydag 30 Julie en die wenners van elke afdeling sal in Die Kwêvoël van Vrydag 5 Augustus gepubliseer word. ‘n Afsonderlike sms-kompetisie wat deur Die Kwêvoël waargeneem sal word, sal “Thaba se gunsteling” baba/peuter of kleuter aanwys. Hierdie kompetisie is onafhanklik van die Landbouskou se kompetisie.

Die beoordelaars van die Landbouskou baba en kleuter fotokompetisie se beslissing is finaal. Die wenners se pryse word op 30 Julie om 11:00 te Landbouskou oorhandig.

Enige navrae kan gerig word aan Christine by 082 880 5704.