AfriForum Jeug bring hulde: 25 jaar ná Magoo’s Bar-bomontploffing

AfriForum Jeug bring met Jeugdag (16 Junie) hulde aan die drie mense wat 25 jaar gelede, gesterf het in die ANC en Robert McBride se bomaanval op burgerlike teikens by die Magoo’s Bar in Durban.

Benewens Angelique Pattenden, Julie van der Linde en Marchelle Gerand wat in die ontploffing gesterf het, is 71 ander burgerlikes beseer. Die Waarheid-en-versoeningskommissie het bevind dat die bomaanval ‘n growwe skending van menseregte was. Min, indien enige, van die slagoffers was lede van die veiligheidsmagte.

Die konstitusionele hof het verder onlangs bevind dat McBride ‘n moordenaar genoem mag word, ten spyte daarvan dat hy amnestie vir die voorval gekry het.

“AfriForum Jeug is moeg daarvoor dat jong Afrikaners se geskiedenis gekriminaliseer word terwyl die ANC se geskiedenis geromantiseer word,” het Charl Oberholzer, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, gesê.

Volgens Oberholzer is dit belangrik om hierdie gebeurtenis in die tyd voor Jeugdag te herdenk om die mite dat die ANC se struggle net edel en rein was, ‘n nekslag toe te dien.

“AfriForum Jeug dink vandag aan die naasbestaandes van die onskuldiges wat gesterf het, asook die 71 onskuldiges wat in die voorval beseer is,” het Oberholzer gesê.