Suid-Afrika se top Mampoerstokers bekroon

Op die foto is vlnr: Sakkie Kotze (ATKV), Lambert Badenhorst, Lofty Ellis ('n Wynkonsultant van Stellenbosch en Hoofbeoordelaar) en Hennie Labuschagne.

Suid-Afrika se top Mampoerstokers het die afgelope naweek by die Willem Prinsloo Landboumuseum, oos van Pretoria, saamgetrek en weer kopstukke oor die mampoerkultuur in Suid-Afrika gesels.

Die duisende besoekers het opgedaag om mampoer te kom proe en koop en proe en koop en proe…

Ander besoekers het weer die baie landboukultuuraktiwiteite by die Landboumuseum besigtig of na die ATKV Centurionsangers en -musikante gaan luister.

Die ATKV se aanbieding van Kultuurpret met ‘n aartappelskil-, lemoenskil- en rissie-eetkompetisie het ook baie aandag gekry en vir baie pret gesorg.

Hennie Labuschagne van Lydenburg is vanjaar as die Nasionale Kampioenmampoerstoker aangewys terwyl Lambert Badenhorst van Caledon in die Kaap, as die Nasionale Kampioenwitblitsstoker aangewys is. Sy Witblitsdruiwe met dop, sowel as sy Witblitsdruiwe sonder dop, is albei as topkwaliteit Witblits aangewys.

Sakkie Kotze van die ATKV het die gelukwense en die oorhandiging van pryse, skilde en wisseltrofeë hanteer.