Rodeo ongelukkigheid ry dalk Skou-Rodeo in die wiele

Mnr Tom Prinsloo, streeksorganiseerder vir Limpopo Rodeo by Flenters, wat ‘n stukkie appel uit Prinsloo se mond neem.

RUSTENBURG – “’n Perd wat se been Saterdag 28 Mei tydens ’n rodeo in Rustenburg gebreek en by die vel uitgesteek het, is met die gebreekte been uit die arena gelei voordat ingegryp en die dier van kant gemaak is.”

In Beeld vroeg verlede week is die roerende verhaal ingekleur van hoe ‘n perd tydens die rodeo by die Hoefslagfees tussen Koster en Lichtenburg van kant gemaak is, nadat die merrie haar ruiter afgegooi, maar aanhou bokspring het, waarna sy op die gras gegly en haar been gebreek het.

Volgens Beeld wou die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) ’n strafregtelike klag daaroor teen Rodeo SA indien. Me Grace de Lange van die NDBV het die rodeo Saterdag bygewoon en was ooggetuie van die gebeure.

Dit is gebruik in rodeo’s om ’n tou om die diere se agterlyf te sit om hulle te laat bokspring. Die tou moet afgetrek word sodra die ruiter val.

“Dit het nie Saterdag gebeur nie en die perd het aanhou spring en op die arenavloer se gras gegly. Haar been het gebreek.”

Volgens De Lange is die merrie uit die arena gelei pleks dat sy ingevolge dierebeskermingswetgewing dadelik van kant gemaak is om verdere lyding te voorkom. Die NDBV het toe ingegryp, haar met ’n penpistool bewusteloos geskiet en keelaf gesny.

“Ons is hartseer,” is die organiseerders van die Hoefslagfees se amptelike kommentaar. “Sulke beserings kom internasionaal in alle perdesportsoorte voor. “Ons het nie self die reëlings vir die rodeo getref nie.”

Volgens mnr Tom Prinsloo, streeksorganiseerder vir Limpopo Rodeo, wat sorteer onder SAPRCA (South African Professional Rodeo and Cowboy Association), kon hierdie tragiese gebeurtenis moontlik verhoed gewees het, was die rodeo op ‘n sand- of grondbaan aangebied. Hy het self die rodeo bygewoon en het gesien hoedat geskoolde perde dit moeilik vind om hul balans op die grasbaan te behou.

Mnr Prinsloo, beding tans vir ‘n tydgleuf vir ‘n rodeo gedurende die Thabazimbi Landbouskou einde Julie. Volgens Prinsloo is daar wel lede van die gemeenskap wat hul bedenkinge het oor die rodeo, alhoewel die ander wel daarna uitsien om die “regte cowboys” in aksie te sien.

Intussen het die Thabazimbi Ruiterklub in ‘n persverklaring hulself gedistansieer van enige organisasie of organiseerders betrekking tot ‘n Rodeo. Volgens mnr John Davies, Thabazimbi Ruiterklub se voorsitter, baseer hulle hul besluit op die beleid dat enige dissipline waarin ‘n dier moet vertoon, moet voldoen aan ‘n deursigtige, universele aanvaarbare, menslike, stresvrye metode van opleiding voor ‘n optrede. Die opleiding moet die dier kondisioneer sodat stres en angs geminimaliseer word. Volgens die Ruiterklub gebruik Rodeo organiseerders juis angs en stres om die dier te laat vertoon.