Eersterangse skade aan tweedehandse winkel

Kraaines Krapwinkel is Saterdagnag herdoop na Kraaines Trapwinkel, nadat ‘n jong man beheer verloor het oor sy voertuig en deur die voordeur gejaag het.

THABAZIMBI – In die middernagtelike ure van Saterdag, 4 Junie, het ‘n inwoner van Swartklip na wat beweer word, beheer oor sy Bantam Bakkie verloor en met ‘n aansienlike spoed deur Kraaines Krapwinkel in Vanderbijlstraat, se voordeur gejaag.

Die man is nie ernstig beseer nie, maar die Ford is afgeskryf.

Volgens Sonette Kotze, eienaar van Kraaines Krapwinkel beloop die skade aan die winkel-aansig en meubels nagenoeg R30 000. Vir veiligheid moes daar ‘n wag voor die deur geplaas word gedurende die naweek totdat die deur op Maandag herstel kon word. Die vorige eienaars het dieselfde deurgemaak sowat ses jaar gelede, toe ‘n lid van die publiek ook deur die voorruit gejaag het. ‘n Klag van dronk- en roekelosebestuur word ondersoek.