Een-arm boogskut skiet kompetisie

Oom Daan Theron, Hennie Myburg en Anita Peens. Hennie, ‘n baanbreker vir een-arm skuts, het spesiaal deurgekom na Thaba om vir Anita en oom Daan te ontmoet.

THABAZIMBI – Thaba se geliefde Anita Peens, ‘n een-arm boogskut, skiet more, Saterdag 11 Junie kompetisie saam met nog vier ander een-arm skuts in Pretoria.

Anita en oom Daan Theron het op 4 Junie kennis gemaak met ‘n baanbreker een-arm skut, Hennie Myburg van Steelpoort. Hy het die klub kom besoek om spesifiek vir Anita en oom Daan te ontmoet.

Hennie het in 1986 in ‘n motorfietsongeluk die gebruik van sy linkerarm verloor, drie jaar later het hy die besluit geneem om die ledemaat te laat amputeer. Hy was nog altyd betrokke by stoei en het ook sy Transvaal-kleure in stoei verwerf nadat hy sy arm verloor het.

Sy groot liefde vir boogskiet het egter eers in 2007 begin, nadat sy jonger broer, Christo, vir hom ‘n DVD gewys het waarin ‘n een-arm boogskut ‘n koedoe plattrek. Nog dieselfde dag het die twee broers die boogwinkel besoek vir Hennie se eerste boog.

Sy eerste bok, ‘n eland, het hy drie maande later geskiet waarna hy besef het dat ‘n deur wat hy gedink het toe was, weer oopgemaak het.

Volgens Hennie is boogskiet ‘n sport waaraan enige gestremde persoon kan deelneem en dit bied ook die geleentheid om weer die natuur te kan geniet.
Hy het aan kompetisies begin deelneem sodat mense deur hom geïnspireer kon word. In April 2008 het hy aan die World Field Archery Championships in Namibië deelgeneem waar hy sesdeplek teen nie-gestremdes geëindig het.

In Augustus 2010 het hy in Duitsland aan die World Field Archery Championships deelgeneem waar daar steeds geen gestremde kategorie is nie, en met goud huiswaarts gekeer.

Hy het al in verskeie tydskrifte, koerante en klubblaaie verskyn, op hierdie manier weet Hennie dat sy storie ander gestremdes sal inspireer en bewusmaking skep rondom hierdie groeiende sport. Hy poog steeds om ‘n kategorie by SANAA te laat registreer vir gestremde skuts, maar dit kan net gebeur wanneer vyf een-arm skuts meeding.

Hennie skiet met ‘n ander tipe toestel, wat deur ‘n een-arm skut, Kevin Evans, in Kanada ontwerp en ontwikkel is, as die band waarmee Anita en ander een-arm skuts skiet. Hennie het die ontwerper in Kanada van Anita vertel en die ontwerper het ingestem om vir haar een van sy toestelle te skenk, hierdie toestel kom om Anita se lyfie en sal die boogskiet heelwat vergemaklik.

Hennie vertel dat wanneer iemand ‘n ledemaat verloor, verander daardie persoon se persoonlikheid met tot 90%, onmiddellik sien die persoon nie meer wat hy wel kan doen nie, maar wat hy nie meer kan doen nie. Dit is baie belangrik om iets te kry wat daardie persoon weer motiveer en uitdaag. Lees volgende week hoe Anita by die boogskiet kompetisie presteer het.