Boerenooi doen prakties in Duitsland

Carli Nel van Thabazimbi, ’n oudstudent van die Kaapse Instituut vir Landbou-opleiding op Elsenburg, in tradisionele Beierse drag op haar eerste fleckvieh-skou tussen fleckvieh-holstein-kruise.

DUITSLAND – Die 21 jarige Carli Nel van Thabazimbi, het verlede jaar haar diploma by Elsenburg landbou Kollege, naby Stellenbosch, ontvang in diereproduksie.

Carli was nog nie seker wat sy hierna moes doen nie. Na ’n ontmoeting met Thys Swart, verteenwoordiger van Bavarian Fleckvieh Genetics (BFG) in Suid-Afrika, het hy haar aangeraai om haar prakties in Duitsland te voltooi. In 2011 het Carli dan ook ingeskryf by die Universiteit van Stellenbosch met Duits as vak vir die eerste kwartaal. Thys het gereël dat sy 8 maande in Duitsland haar prakties kon doen by Bayern Genetik se KI stasie digby München. Carli het dan ook aan die begin van die tweede kwartaal na Duitsland vertrek. Dr Thomas Grupp beskryf haar as uiters fluks en ywerig en is baie gelukkig met haar as student by die instelling.

Hierdie Boeremeisie is ’n ware ambassadeur vir Suid Afrika. Carli moes kort na haar aankoms in Duitsland vir Bavarian Fleckvieh Genetics deelneem aan haar eerste Fleckvieh skou waar Fleckvieh/Holstein kruise, almal Illion dogters, uitgestal was. Carli sal haar laaste maand in Nederland deurbring as deel van die bemarkingspan van BFG.

Carli het op Elsenburg sertifikate verwerf vir onder andere kunsmatige inseminasie en is ook ’n geregistreerde inseminator. Sy het ook die beginners kursus in beoordeling van Vleis Merino`s voltooi.

Hoewel dit uiters moeilik is om SA studente na Duitsland te stuur, is Carli die derde SA student die afgelope 3 jaar wat praktiese opleiding van Bayern Genetik ontvang. Vorige studente was onder andere Pieter Oelofse van Coligney en Alicia Fritz van Swellendam. In hierdie tyd het reeds 5 Duitse studente hul prakties te Swellendam kom doen op die plaas Koesanie, tuiste van Kykso Simmentalers. Die beplanning van BFG is om in die toekoms meer Duitse studente na SA te bring.