Half miljoen by wildveiling

ALLDAYS – Die wildveiling by Alldays veilingskrale van Hanley wildvangdienste is op Vrydag 20 Mei aangebied.

Die wildveiling van Hanley behoort aan Mnre Lood Goosen Snr & Jnr. Oudergewoonte was die diere in baie goeie toestand weens die feit dat mnre Goosen uitstekende wildvangers is. Die opkoms van die kopers was laer as die eerste veilings wat reeds plaasgevind het omdat die jagseisoen aangebreek het en die boere besig is met hulle jagters.

Die pryse was as volg: ses en twintig blouwildebeeste kom onder die hamer teen ‘n gemiddeld van R3023, 16 elande teen ‘n gemiddeld van R5466, sewe koedoes teen ‘n gemiddeld van R2886, nege njalas teen ‘n gemiddeld van R6500, 110 rooibokke teen ‘n gemiddeld van R912, vier rooihartbeeste teen ‘n gemiddeld van R5600, agt volstruise teen ‘n gemiddeld van R1900 en 14 waterbokke teen ‘n gemiddeld van R3443. Die manlike diere ontvang die volgende gemiddelde pryse: sestien blouwildebeeste teen ‘n gemiddeld van R3735, een jong gemsbok teen R1900, twee jong kameelperde teen ‘n gemiddeld van R7000, een koedoe teen R10500, 11 rooibokke teen ‘n gemiddeld van R1028, twee rooihartbeeste teen ‘n gemiddeld van R6000 en een waterbok teen R5000. ‘n Totale omset van R526 575 is gemaak.

Willie Roux van Vleissentraal Bosveld was die afslaer.