Goud en silwer vir HFM skuts

Regan Heroldt en Renaldo Nortje, twee HFM skuts wat silwer en goue medaljes tydens die HPP Uitnodiging verower het. Renaldo sal in Junie/Julie vanjaar SA in Amerika verteenwoordig tydens die National Junior Air Gun Championships en die National Junior Olympics.

POTGIETERSRUS – Twee uitstekende luggeweerskuts van HFM het deelgeneem aan die HPP Uitnodiging te Potgietersrus op 14 Mei, hul uitslae is as volg:

In die 0/16 Sporter afdeling verower Regan Heroldt ‘n silwer medalje in die 3P afdeling en silwer medalje vir die tweedeplek algeheel met 820/1000.

In die 0/21 Sporter afdeling verower Renaldo Nortje ‘n silwer medalje in die 3P afdeling, ‘n goue medalje in die 10m Olimpies asook ‘n goue medalje vir eersteplek algeheel met 893/1000.

Renaldo ontvang die HPP Wisseltrofee vir 2011 en goue medalje as Sporter-skut van die dag.

HFM kan werklik trots wees op hierdie skuts, want hulle het as ware ambassadeurs van hul skool opgetree.

Renaldo Nortje is tydens die luggeweerproewe wat vanaf 15 tot 16 April te Bloemfontein plaasgevind het, as een van 19 skuts gekies om SA in Amerika op 20 Junie tot 2 Julie 2011 te verteenwoordig waar hulle aan die National Junior Air Gun Championships en die National Junior Olympics gaan deelneem.

Renaldo Nortjé het tydens die proewe met ‘n mooi punt van 1424/1600 in die Sporter afdeling ‘n sesdeplek behaal en is dan ook deel van die span wat Amerika gaan besoek.  Hy verwerf dan ook vir die derde keer in die afgelope jaar sy SANSSU (Suid-Afrikaanse Nasionaleskuttersunie)-kleure.

HFM is trots op Renaldo wat soos ‘n ware Frikkie opgetree het.