DA bedank gemeenskap vir ondersteuning

Op die foto is die nuwe DA Raadslede saam met die provinsiale leier vlnr: Derick Daniels, Bertie Joubert, Paul Scruton, Desiree van der Walt (DA LP Limpopo), Piet Strydom en Franco Loots.

THABAZIMBI – Die DA parlementslid vir Limpopo, me Desiree van der Walt, het tydens die inswering van die nuwe DA Raadslede, namens die DA haar dank oorgedra aan almal wat gaan stem het. Aan die kiesers wat hul ondersteuning aan die DA gegee het, het sy haar besonderse dank oorgedra vir die vertroue in hulle in die DA gestel het.

Sy het verder genoem dat hierdie verkiesing vir die DA die begin van die 2014 verkiesing is.

In Thabazimbi wen die DA een wyk, naamlik die wyk verteenwoordig deur Paul Scruton, en kry vier PR raadslede naamlik Derick Daniels, Bertie Joubert, Franco Loots en Piet Strydom by. Hiermee het die DA dus nou vyf DA raadslede teenoor die twee wat die DA voor die verkiesing verteenwoordig het.

Op die Waterberg Distrik Munisipaliteit het die DA ook nou twee direk verkose (40%) raadslede naamlik Dries Basson en Fransinah Masalesa.

In Limpopo het die DA soos volg presteer: Hulle groei vanaf die 2006 Plaaslike verkiesing met 1.4% en van 2009 verkiesing met 2.81%.

Die DA het 4 wyke van die ANC afgeneem naamlik Tzaneen, Makhado, Phalaborwa en Maruleng asook die enigste twee wyke van die VF+ in die provinsie, Modimolle en Mookgapong. Hiermee het die DA raadslede van 66 na 79 gegroei.

Me Van der Walt het ook gesê dat daar nou saamgewerk moet word vir beter dienslewering aan al die gemeenskappe en om in 2014 ‘n heelwat groter impak te maak.

Sy het die gemeenskap ook bedank vir die positiewe gesindheid waarmee die DA gedurende hul veldtog ontvang is.