APK boerebasaar oor twee weke

THABAZIMBI – Die gemeenskap kan uitsien na ‘n egte boere op Saterdag 4 Junie 2011 wanneer die AP kerk Thabazimbi hul jaarlikse basaar op hul kerkterrein aanbied.

Die tafels gaan van 08:00 gereed wees vir besigheid, met die amptelike opening om 10:00. ‘n Veiling met allerlei items vind om 11:30 plaas.

Liplekker disse word aangebied soos pannekoek en vetkoek en fyngebak en regte basaarpoedings. Dan is daar ook ‘n “wit olifant-tafel”. Dit wat jy nie meer in jou huis nodig het nie, is dalk ‘n aanwins vir iemand anders.  En natuurlik ‘n vleistafel met kwaliteit-vleis teen baie billike pryse. Vars groente en vrugte word ook aangebied.

Vir middagete word potjiekos, onder meer ‘n wildspotjie, aanmekaar geslaan.

Hierdie jaar word ook aandag gee aan die jonger klomp. Die kinders kry geleentheid om op ‘n springkasteel te speel;  hul gesigte kan geverf word en allerlei lekker dinge word vir hulle aangebied. Daar word ook perdry-ritte aangebied van ponies tot groot perde.

Hierdie is die Bosveld en daarom word ook bietjie aandag gegee aan tegniese jagvernuf. Teikenskiet met ‘n windbuks word aangebied met ‘n rooibok op die spel. En boogskiet word ook aangebied, daar is verblyf vir 4 mense vir 2 nagte en 3 dae op ‘n boogjagplaas op die spel.

Nog ‘n “nuutjie” is ‘n lewende hawe kraaltjie. Sover is daar skape en mak varkies, hoenders, hasies, kuikens en visse by hierdie stalletjie.

By die veiling word wildskarkasse en ander los goedere aangebied, onder meer ‘n handgemaakte 2-sitplekbankie. Daar is ook ‘n jagpakket wat 2 rooibokke en 2 vlakvarke en verblyf vir 2 jagters uitmaak, wat onder die hamer gaan kom.

Alle transaksies word op ‘n kontant-basis hanteer.

As die poging alle verwagtinge oortref en die beplande begroting bereik word, gaan ds Albert Boshoff sy baard verloor.

Die AP Kerk Thabazimbi is geleë in Warmbadweg, langs Bosveld Akademie, oorkant Obaro.