Ons lesers skryf – BLY BLANK MY VOLK!?

Vir wat? Met die verkiesing, by die stempunt waar ek moes werk, sien ek die volgende net om maar ‘n paar te noem. Twee ou dames, ouderdom geskat so van 70 of dalk bietjie meer. Ek ken die twee “tannies”, hul is hier van die kontrei. ‘n Swart ou dame, ook in dieselfde portuur is saam, want die een “tannie” is in ‘n rolstoel. So sukkel die drie DAMES met die rolstoel, maar nie een het krag nie. Ek wil nader gaan, maar ek sien  hier kom ‘n blanke man en sy vroutjie aangestap. Hy sal sekerlik handjie bysit, maar nee, hy kyk hul net aan en stap verby, so ook ‘n tweede blanke paartjie en ook ‘n derde.

Verder het ek gesien hoe blanke mans, onder die invloed van alkohol by stempunte opdaag. Die swart mense is luidrugtig – jammer dit is regtig hoe hul is! Ja, daar is maar spanning tydens ‘n verkiesing, alkohol vererger dit.

By een van die ander stempunte het ‘n ouerige blanke dame ook gesukkel om by die stempunt uit te kom, Sy loop swaar en het min asem. ‘n Swart vrou het toe ‘n stoel vir die tannie gevat en haar net daar gehelp met stembriewe, ID en toe gehelp en ondersteun tot sy haar stem kan laat geld.

Vir die wat sê: “Stem reg, bly weg” – moenie kom kla oor enigiets nie, van dienslewering tot slaggate, want jy kon ‘n verskil maak.

By die stempunt waar ek diens gedoen het, nie as vrywilliger nie, maar as deel van my werk, groet ek almal. Mense wat ek ken, hetsy deur werk, goed of sleg, kyk my in my oë en groet my nie, asof ek die negatiewe deel is van hierdie verkiesing waarvan hulle ook nie deel wil wees nie.

Weet jy, ek is ook nie lus om jou te groet nie, maar ek doen dit, selfs in die kerk. Ek wil graag kerk toe gaan om die Here te dien, maar dan kry ek hierdie kyke, van die belangrike blanke mense wat geen foute het nie, en nie in die kerk groet nie. Van hierdie mense het besighede, en wanneer ek dan besigheid by hulle doen, dan is dit net tande soos hul glimlag.

Dan is daar steeds diegene wat sê: “Bly blank my volk” – vir wat?

Zinnie Mentz-De Jager