Ons lesers skryf – Bestuurderslisensie aansoek – chaos op Vrydag die 13de

Om as wetsgehoorsame burger ‘n plek te bekom om ‘n wettige bestuurderslisensie, bly ‘n groot probleem op Thabazimbi. Dit is weereens bewys op Vrydag 13 Mei toe dit in wanorde van ‘n gestampery en geslanery ontaard het, dit omdat mense bang was hul word weer nie gehelp nie.

Daar is geen werkbare sisteem nie en veroorsaak oneindig baie probleme. My dogter en menige ander is in die proses ‘n paar houe en stampe toegedien. Toe ek dit onder die verkeersbeampte se aandag bring, was sy reaksie ewe brutaal aan my: “Gaan lê ‘n klag by die polisie.” Die polisie was ook in ‘n stadium daar, maar het ook skouers opgetrek. Die openingsdatum was die 13de Mei, maar die verkeersbeampte het gesê dit is net reg dat die persone wie se name die vorige dag opgeskryf is, voorkeur geniet. Baie skoliere het deur die nag daar gesit om ‘n plek te verseker. Dit opsigself is ‘n baie gevaarlike situasie, in die lig gesien van die chaos wat daar geheers het.

Ek het ongeveer twee jaar gelede die volgende voorstel aan Johnny Motaung, hoof van veiligheid en verkeer, gedoen toe daar in daardie stadium net 20 vorms uitgedeel is en skoliere ook nagte omgesit en na onverrigte sake, maar weer huiswaarts gekeer het.

Dat daar byvoorbeeld elke Woensdagmiddag na skool, tien wit en tien swart skoliere wat bewys kan lewer dat hul in omliggende skole is, aansoek doen vir leerling- en bestuurderslisensies. Dit kan help aangesien Gr 11 en Gr 12 leerders belangrike skoolwerk verloor deur nagte om voor die lisensiekantoor te sit en slaap.

Mnr Johnny Motaung het gesê hulle sal daaroor dink, twee jaar later en die chaos is net baie, baie erger.

Waar gaan dit eindig? Moet iemand eers sy lewe verloor voor wetstoepassers op Thabazimbi wet en orde gaan handhaaf en ‘n ordelike sisteem implementeer. Of moet ons lisensies onwettig bekom?

Ek dink dit het tyd geword dat die verkeersafdeling en die gemeenskap na mekaar se voorstelle luister en ‘n sisteem op die tafel plaas wat ons dorp ‘n wendorp kan maak.

Annetjie