Munisipale nooddiens lewer geen diens

THABAZIMBI – Na aanleiding van die ongeluk op Woensdag 18 Mei wat die lewe van ‘n jong man, Clayton de Winnaar (20) van Amandelbult geeis het, is die Thabazimbi Munisipaliteit se nooddienste weer in die kollig.

Volgens Henk Havenga van Thabazimbi Krisisbeer is die oproep van die ongeluk deur Thabazimbi Krisis Beheer om 20:38 ontvang. Thabazimbi Munisipaliteit  se Verkeers afdeling is om 20:39 en Limpopo EMS om 20:41 in kennis gestel.

Thabazimbi Krisis Beheer arriveer op die toneel om 20:55 gevolg deur Gerrie Visagie van Thabazimbi Verkeersafdeling om 20:58 en Limpopo EMS se ambulans vanaf Northam arriveer op die toneel om 21:10. Amandelbult Myn se Brandspan word om 21:07 vir hulp gekontak. Limpopo se Nooddiens voertuig arriveer op toneel 21:40, ‘n uur nadat hulle gekontak is as gevolg van meganiese probleme wat aanvaarbaar is, ten minste kom hulle darem daar aan.

Die Munisipaliteit se Nooddiens voertuig het glad nie opgedaag nie, niemand kon hulle in die hande kry nie, maar hulle word gewaar in die nag  om 02:00 en 03:00 met die voertuig in die dorp rond ry, alhoewel daar geen nooddiens daardie tyd van die oggend uitgeroep is nie.

Basiese nooddienste aan die gemeenskap ly daaronder weens ‘n gebrek aan dienslewering. Volgens Henk is dit ‘n baie beter om jou te verlaat op die plaaslike myne en privaat dienste in die omgewing vir vinnige en professionele optrede en hulp as op die munisipale dienste.

Eers is dit aan die hele gemeenskap bewys dat die plaaslike munisipale brandweer nie in staat is om hierdie dienste te verrig nie tydens ‘n paar brandgevalle vroeër vanjaar waartydens die brandweerwa of funksioneel nie instaat was nie, of glad nie opgedaag het nie, en nou word dit maar net weereens bewys dat die opgeleide brandweer en reddings persone ook nie ‘n reddingsdiens kan lewer nie, want hulle kan nie opgespoor word vir ‘n uitroep nie.