Groen strikkiedag vir Huis Immergroen

Groen strikkiedag vir Huis Immergroen

Die projek Happy Feet vir Huis Immergroen het sy ontstaan te danke aan ‘n bekende plaaslike langafstandatleet, Luzaan Combrink, wat alreeds die teerstrate van Thabazimbi asook elders aan die brand hardloop en alreeds gehardloop het.

Soos ons as inwoners van Thabazimbi weet, is daar baie nood in en rondom ons geliefde dorpie en baie mense is betrokke by hierdie spesifieke nood. Almal van ons het nie altyd dieselfde “roeping” nie en word nie altyd op dieselfde manier aangespreek met die woord “NOOD” nie. Huis Immergroen is ‘n tuiste vir bejaardes/bejaardesorg wat tans in aanbou is. As gevolg van opgedroogde fondse, staan die bouprojek tans stil. Die beraamde kostes om die tuiste klaar te maak is ongeveer R500 000, wat die projekspan huidiglik nie het nie. Hierdie werk behels die installering van plafonne, verf van mure, vloerafwerking, ruitglas installasie ens.

Maar hierdie atleet het verseker die Opdrag gekry om hierdie jaar wedlope tot en met die Comrades wat in Meimaand plaasvind, op te gee vir  Huis Immergroen. Nou is dit nog net die “grote” wat voorlê, die Comrades wat op 29ste Mei met ‘n afstand van 89.9km. In totaal is al die wedlope ‘n afstand van 350km.

Ons het dit goedgedink om op Vrydag 27 Mei 2011 ‘n groenstrikkiedag aan te bied. Almal , individue, maatskappye en besighede word uitgedaag om by hierdie projek betrokke te raak deur ‘n groen strikkie teen R10 per strikkie aan te koop en dit dan te dra op Vrydag 27 Mei 2011. Op so ‘n beskeie manier kan jul as maatskappy Luzaan emosioneel vir die Comrades ondersteun en terselfdertyd ‘n bydrae maak tot Huis Immergroen. U kan u groen strikkie voor of op Donderdag 26 Mei 2011 by haar, Luzaan Combrink (082 593 7084) bestel. Indien u haar teen ‘n vaste bedrag per kilometer wil ondersteun, is u ook welkom om haar te kontak.