AP Kerk “boere basaar” op 4 Junie
THABAZIMBI – Op Saterdag 4 Junie 2011 bied die AP Kerk Thabazimbi hul jaarlikse basaar op hul kerkterrein aan.
Die tafels behoort 08:00 gereed te wees vir besigheid. Die amptelike opening vind om 10:00 plaas. Soos in die verlede beloof dit om ‘n heerlike “boere-basaar” te wees. Die lidmate is al hard besig om hul vere reg te skud vir hierdie jaarlikse gebeurtenis.
Natuurlik moet almal deesdae al meer planne maak en skouer aan die wiel sit, almal is tog bewus van die verslegtende ekonomiese klimaat waarin ons, ons bevind.
Hierdie jaar het ds Albert Boshoff die Gemeente uitgedaag deur sy baard op die spel te sit. As die begrote bedrag vir die basaar bereik word, gaan die hare waai. Dan word ds Albert se baard afgeskeer. Tot op hede is die dominee nog nie eintlik bekommerd dat hy gaan verloor nie.
Die basaar bied die gewone stalletjies aan: ‘n vleistafel, wat hopelik gaan kreun onder die vleis, pannekoek, poedings, koeke en terte en ander gebak, heerlike vetkoek, ‘n wit olifant-tafel, koeldrank, koffie en tee. Soos gewoonlik word ook ‘n veiling beplan.
Verlede jaar het die AP Kerk begin met ‘n Boeretydren. Die Boeretydren gaan nie vanjaar op dieselfde dag as die basaar aangebied word nie, dit sal DV plaasvind op Saterdag 14 Oktober 2011.
Die formaat van die Boeretydren word sodanig aangepas dat spoed tussen die trajekte geen rol gaan speel nie. By elke kontrolepunt, geborgde trajek, word ‘n aktiwiteit hanteer. By die aktiwiteite kry die deelnemers punte. Aktiwiteite wissel van kettieskiet tot jukskei gooi en Bybelvasvrae. Die algehele wenners word bepaal deur die punte by die verskillende aktiwiteite behaal bymekaar te tel. Minstens vier groot pryse gaan toegeken word, buiten die pryse wat deur die verskillende borge by die verskillende trajekte aangebied word. Daar is ‘n jagpakket en groot kontantpryse, R15,000, R10,000 en R5,000 ter sprake. Omdat binne die verkeersreëls gebly word, en omdat daar geen algehele beste tyd ter sprake is nie, hoef ‘n deelnemer nie ‘n aangepaste voertuig te gebruik vir deelname nie. Enige standaard voertuig kan die roete baasraak. Inskrywingsvorms sal eersdaags beskikbaar wees, R1,000 per voertuig met ‘n bestuurder en ‘n navigator.
Enige navrae omtrent die Basaar van 4 Junie 2011 kan aan die Basaarmeester, Henk Botha by 083 287 3296, of aan die kerkkantoor by 014-777 1689 tussen 08:00 en 12:00 gerig word.
Navrae omtrent die Boeretydren kan gerig word aan ds Albert Boshoff by 082 899 9910 of aan Hugo Penzhorn by 078 314 2649.