Tambotie Versorgingseenheid ontvang hul oudste bejaarde inwoner

THABAZIMBI – Ouma Catharina Sandylands (102) is op Dinsdag 10 Mei by Tambotie Versorgingseenheid vir verswakte bejaardes opgeneem.
Sy is ‘n baie bekende inwoner van die Bosveld. Tans word 17 verswakte bejaardes intensief in Tambotie versorg waarvan die ouderdomme wissel vanaf 80 tot 102 jaar.
Tambotie is vanjaar vyf jaar oud. By die geleentheid het Marie Steenekamp, koördineerder en haar bestuur hul dank uitgespreek teenoor die Kerke, sakelui en individue wat oor die jare baie bygedra het om die Inrigting in stand te hou. Die Inrigting was ‘n baie groot behoefte en sonder die steun van die gemeenskap was dit onmoontlik om aan te gaan, sê me Steenekamp. Geen staatshulp word ontvang nie.
Hulle bedank almal wat gereeld kom inloer by die inwoners met heerlike eetgoed. Hulle verlang na geselskap. Van hulle is baie behoeftig, maar danksy ondersteuning van die gemeenskap, kan hulle met liefde en deernis versorg word. Me Steenekamp nooi almal uit om te gaan inloer.