Thabazimbi Boogklub, Limpopo Liga aanbieding

Die Thabazimbi Boogklub se skuts wat presteer het in hul onderskeie kategorië, vlnr: HJ Swanepoel (silwer), Heather Mayer (goud), Anita Peens (goud), Edward Swanepoel (brons), Fritz Gouws (brons), Ryno Potgieter (goud), Nicky Keeny (goud), Cilliers Miller (silwer), Jan Botha (goud), Callie Botha (goud) en Wessel Peens (goud).

THABAZIMBI – Die Limpopo Liga is tydens die Thabazimbi Expo op Saterdag 30 April deur Thabazimbi Boogklub aangebied.

Volgens die organiseerders was dit ‘n baie suksesvolle dag. Daar was 38 skuts, van oral oor die Limpopo wat ingeskryf het vir die kompetisie, alhoewel hulle meer plaaslike skuts daar wou sien. Hulle nooi sommer nou al almal wat ‘n boog besit en in Thaba omgewing bly om deel te neem wanneer hulle binnekort weer so ‘n dag aanbied.

Volgens die organiseerders het hulle baie komplimente gekry oor die uitleg van die baan, veral van die Protea-skut en Liga Voorsitter Johan van Stryp. Hy en sy seun, Jurgens was twee weke gelede in Australië vir die Wêreld Bowhunter Kampioenskappe. Volgens Stryp was dit ‘n belewenis om daar Internasionaal te kon deelneem. Johan van Stryp het algeheel vyfdeplek verower in die klas “Veterane Mans Freestyle Unlimited”, en sy seun, Jurgens van Stryp het derdeplek vir “Mans Bowhunter Unlimited” klas verwerf. Die klub wens hulle sowel as die ander SA Skuts wat ook daar presteer het, geluk toe.

Buiten die dag se groot sukses het daar baie nuwe vriendskappe gevorm en het die Thaba skuts heerlik saam met al die nuwe mense wat hul vernuf kom ten toon stel het, gekuier. Die organiseerders waardeer elke skut se betrokkenheid by die dag, waarsonder die kompetisie nie geloods kon word nie. Thabazimbi Boogklub vergader elke Woensdagmiddag om 17:00 by die Koos Cronje Skietbaan, skakel Hannes Scheepers by 083 233 2118 vir verdere navrae.