Swartbaars was aan die hoek

LEPHALALE – Die swartbaars hengelkompetisie van die Hervormde Gemeente Ebenhaeser, Lephalale, het op Saterdag 30 April 2011 by Mokolo-dam plaasgevind.

Reeds van so vroeg as Vrydagoggend het sommige van die hengelaars gearriveer. Daar is heerlik gekuier en gereed gemaak vir die vangs die volgende dag.
So het die langverwagte dag aangebreek. Die bote het die groot dam ingevaar. Deur die loop van die dag het die hengelaars hulle vangs kom inweeg. Daar was groot opgewondenheid onder die hengelaars en hulle familie en vriende te bespeur.

Verversings is gedurende die dag te koop aangebied. Braaipakkies is beskikbaar gestel in die vorm van wors, skaap-/varktjops, bees-/wild”steak”. Slaai, pap en sous, asook koeldrank is voorsien. Die lede van die Sustersvereniging en diakens was hiervoor verantwoordelik.

Met die toekenningsgeleentheid op Saterdagmiddag is aantreklike pryse in ontvangs geneem. Die wenner van die swaarste swartbaars van 3.01kg, Robert du Plessis het R10 000 ontvang. Die tweede swaarste swartbaars het vir Henry Lensley R5000 verdien terwyl die derde swaarste swartbaars R2 500 vir mnr Janse van Rensburg in die sak gebring het. Ander pryswenners was Pieter Maherry, ‘n tent en mnr De Beer van Pietersburg ‘n opblaasboot. Hierbenewens het die eerste drie wenners ook wisseltrofeë ontvang.

Tydens die funksie is prystrekkings gedoen. Byna elkeen wat deel van die kompetisie gehad het, het ‘n prys ontvang.

Gemeente Ebenhaeser betuig dank en waardering teenoor die borge wat verseker het dat die aantreklik pryse beskikbaar gestel kon word. Hiermee saam word die gemeenskap en elke hengelaar van harte bedank vir sy of haar aandeel om van die geleentheid ‘n reuse sukses te maak. ‘n Besondere woord van dank word tot Carel en Wendy Roos gerig wat aan die spits van die toernooi gestaan het. Die gemeente het ook groot waardering dat Die Kwêvoël die beriggewing publiseer.