Ons lesers skryf – Geweld ‘n kondisie van die samelewing

Ek verneem nou weer dat pres. Zuma apartheid die skuld gee vir ons gewelddadige samelewing. Ek verskil met hom omdat dit glad nie ‘n unieke Suid-Afrikaanse verskynsel is nie – dit is eerder ‘n kondisie van ons samelewing, van die vroegste tye af. Ons dink dat die menslike kondisie het verander vanaf die Wikings en Ghengis Khan maar dit het nie. Ons sus onsself dat ons in die duisende jare vanaf daardie tye verbeter en meer beskaaf geraak het maar dit is nie die geval nie. Die oeroue kwessie van geweld kom binne sekondes weer na vore. Kyk maar net na Serwië, Rwanda en meer onlangs in die Arabiese lande. Ek vermoed dit is seker maar in ons gene vasgevang.

As ‘n kar voor ons indraai is ons dadelik reg om daardie persoon iets aan te doen. As ons veiligheid of voortbestaan bedreig word skop daardie oeroue drang om te oorleef weer in. Party mense sê hulle voel glad nie bedreig as Malema sê hy wil die boere skiet nie. Ek is bly hulle voel so maar as ‘n slagoffer van ‘n plaasaanval voel ek ‘n wrewel by my opkom as ek die man so hoor sing – dit is net menslik. Die man hits daardie diere wat my geskiet het en vir dood agtergelaat het nog verder aan want hulle is nooit gevang nie. Die liedjies wat hy sing is deel van die ‘’politieke kultuur’’ en dit word dus uit en uit net vir politieke gewin gesing.

Voel hy so bedreig deur die ‘’boere’’ dat hy hulle wil skiet? Is dit sy manier om te veg vir oorlewing? Al wat ek weet dat as my en my families se lewe bedreig word is ek bereid om te veg tot die dood toe – nou meer as ooit. Om wapens weg te neem en dit moeiliker te maak om lisensies te kry gaan nie help nie. Deur die eeue heen het die mensdom nogal interessante maniere ontwikkel om mekaar van die gras af te maak.

Ja, ons bly helaas nie in die geel duikboot nie, eerder in die land van m**r mekaar.

Stoney – Leeupoort