“Patrick for Matric” kompetisie

Die matrieks van HFM wat wengeld ontvang het in die “Patrick for Matric” kompetisie, voor vlnr: Katlego Mokoena en Leonette van Rensburg. Tweede ry vlnr: Tania van Vreden, Charné-Lee Pretorius en JP Gonsalves. Agter vlnr: mnr Campbell en mnr Patrick Monaheng. Afwesig: Donna Pieterse.

THABAZIMBI – Patrick Monaheng, ‘n oud-skolier van Hoërskool Frikkie Meyer, is die borg van ‘n kompetisie genaamd “Patrick for Matric”, wat slegs vir die HFM Matrieks aangebied word.

Patrick het sy eie Bestuurskool en dra by tot die ontwikkeling van ons dorp. Die skool bedank hom dat hy ook in die akademie belê.

Na elke verslag word die beste leerlinge in ‘n vakgebied aangewys asook die beste gemiddelde prestasie van een verslag na die volgende een.

Die leerlinge ontvang elkeen ‘n kontantprys. Die kompetisie strek oor die eerste drie verslae/rapporte in die jaar. Prysgelde is vir Verslag 1: R200, Verslag 2: R300 en Verslag 3: R500.

Die wenners van die verskeie vakke in Kategorie A is: Tale: (gemiddeld van Huistaal en Eerste Addisionele Taal) Katlego Mokoena met 86%; Wiskunde: JP Gonsalves met 97%; Wiskundige geletterdheid: Leonette van Rensburg met 99%; Fisiese wetenskap: Katlego Mokoena met 89%; Lewenswetenskap: Charné-Lee Pretorius met 92%; Handelsvakke: Tania van Vreden met 98% vir Rekeningkunde; Tegniese vakke: JP Gonsalves met 94% vir IGO en Geesteswetenskappe: Charné-Lee Pretorius met 96% vir Geografie.

In Kategorie B: Beste verbetering in totale gemiddeld wen Donna Pieterse die prys, sy verbeter met 14.85% vanaf Gr11 eindeksamen na Verslag 1 in Gr 12.