Sport

Northam Platinum wen Bosveldtrofee

Northam Platinum se span wen die Bosveldtrofee, elkeen het ‘n weegmat as prysgeld van Northam Discount Store ontvang.

NORTHAM – Die vier spanne wat deelgeneem het aan die Thabazimbi Hengelklub se Bosveldtrofee op Saterdag 16 April, was Amandelbult, Swartklip, Northam en Thabazimbi.

Die ongure weer het geensins die geesdrif van die hengelaars gedemp nie en elke span se volle twaalf hengelaars het deelgeneem. Northam Platinum het hulle egter goed van hulle taak gekwyt en as die algehele wenners uit die stryd getree met ‘n puntestand van 4093 punte. In die tweede plek was Swartklip met ‘n naelbyt oorwinning teenoor Thabazimbi met 3008 punte teenoor Thabazimbi se 2908 punte en die vierde plek wat Amandelbult met ‘n totale puntestand van 1040.

Die grootste karp, met ‘n gewig van 2.78kg is deur E Greef van Swartklip gevang en die grootste kurper met ‘n gewig van 0.90kg deur Corne Claasen van Northam Platinum gehengel.

Die vier klubs se spangees het hoogty gevier en almal het dit terdeë geniet.  Namens die drie bewonende spanne wil ons Northam bedank vir die heerlike aandete asook hulle gasvryheid tydens die verloop van die kompetisie.

Die Thabazimbi Hengelklub se volgende kompetisie gaan plaasvind by Farmstay te Vaalwater op Saterdag die 28 Mei. Die aand gaan die klub heerlik saam
kuier en braai. Daarna sal daar ‘n hengelkliniek aangebied word wat Sondag na ontbyt voortgesit sal word.

Daar word be-oog om Schalck van Breda hierby te betrek andersins sal van die lokale klubs se Springbokke die kliniek aanbied.  Alle belangstellende hengelaars kan vir Renier Coetzee, Thabazimbi Hengelklub se klubvoorsitter skakel by 072 954 1774 of Nicolene 083 348 2315.

Die dames, juniors en penkoppe liga gaan plaasvind tydens die naweek van die 14 en 15 Mei te Cilliers Vaaldam. Elke Hengelklub in die Noordwes skryf 4 dames, 4 Juniors en 2 penkoppe in.  Hiermee word bepaal watter Hengelklub se spanne die beste is.