André “Uit die heupe uit”

André wat Sondag vir lekker loslitmusiek by Dewside Restaurant en kroeg te Tweedelaan 17 Thabazimbi gaan sorg. Kom sluit gerus die Expo-naweek af saam met hom en ‘n heerlike Wild Buffet of kom kuier net saam vanaf 12:00 op Sondag 1 Mei.

THABAZIMBI – Die Wild-Buffet wat Sondag 1 Mei by Dewside te Tweedelaan 17 in Thabazimbi aangebied word, gaan beslis nie sonder vermaak nie. André van der Rheede, ‘n jong kunstenaar wat reeds besig is om vir homself naam te maak, sal vir lekker op en wakker musiek sorg. Diegene wat nie vir die Wild-Buffet bespreek het nie, is welkom om André in Dewside se volle gelisensieerde kroeg te kom geniet. Normale Dewside disse sal ook beskikbaar wees.

Die Wild-Buffet ete se spyskaart bestaan ondermeer uit wildrolle, -boude en ‘n wildpotjie met ‘n verskeidenheid van brode en groente wat afgesluit word met ‘n heerlike nagereg.

André is oorspronklik van Potchefstroom se wêreld af. Daar het hy van jongs af saam met sy pa, in ‘n boereorkes gespeel, en later op sy eie begin om mense te vermaak met sy talente. André het baie vinnig bekendheid bereik in Potchefstroom, en besluit om sy horisonne te verbreed. Hy het na Hartbeespoortdam verhuis, waar hy by populêre kuierplekke, soos “Upper Deck” opgetree het, en skouers geskuur het met van SA se beste Kunstenaars, soos Dozi, Jacques de Coning, en Zak van Niekerk, om maar net ‘n paar te noem.

André het ook al die land deur gereis, as die gas van Thys, Die Bosveld Klong, in 2008, waar André op versoek van Thys, deel was van die “Net Virrie Grap” program, wat op KYKNET uitgesaai is.

André word ook gereeld deur Jacques de Coning genooi, om saam met hom in die Kaap op te tree.

In 2008 het André sy debuut CD vrygestel, getiteld “Donkermaan”. Hierdie CD bestaan uit 12 snitte, waarvan 8 snitte sy oorspronklike musiek is. Dit is beslis die luister werd.

André van der Rheede is ‘n ster op die horison, wat fyn dopgehou moet word, aangesien hierdie talentvolle jong Kunstenaar nog baie hoë hoogtes gaan bereik in die Suid-Afrikaanse Musiek Bedryf, want soos hy altyd vir sy aanhangers sê: “Julle is goeie mense, julle is “Uit die heupe uit!”

Vir meer inligting oor die buffet-ete en Dewside Restaurant en Kroeg, skakel 014 777 1434.