Sopnat Jabulani Hengelkompetisie keer nie hengelaars

Annelie Bronkhorst se karp, een van die suksesvolle vroulike deelnemers.

THABAZIMBI – Die Jabulani Hengelkompetisie het op Saterdag 16 April 2011 ten bate van die AP Kerk Thabazimbi plaasgevind.

Die inwoners van Thabazimbi het beleef dat heerlike reën die afgelope naweek geval het. Gelukkig het die hengelaars genoeg geleentheid gekry om langs die dam hulle staanplekke by hulle getrekte penne in orde te kry en hulle gazebo’s en sambrele op te slaan voordat die volgende bui reën uitgesak het.

Ten spyte van die deurlopende reën is daar heerlik visgevang.  Die kurpers het op sommige plekke meer ywerig as op andere gebyt. Karps was ongelukkig maar trae byters by die kompetisie. Buiten vir babers was daar geen enkele “ander” of “vreemde” spesie wat aangemeld is nie, niemand het eers ‘n skilpad of ‘n krap gevang nie.

Daar is 38 penne beman. Die plan was om deurlopend met ‘n skaal by die verskillende penne rond te beweeg, helaas het die reën die plan in die wiele gery.  Die bedoeling daarvan is sodat veral die karps weer lewendig vrygelaat kan word, en sodat daar nie ‘n bottelnek aan die einde van die kompetisie ontstaan nie. Die organiseerders het sekerlik ‘n paar lesse vir ‘n volgende hengelkompetisie geleer.

Na die prysuitdeling is ‘n klompie wildskarkasse en ander geskenkte items opgeveil waarna heerlik saamgekuier is. ‘n Pot pap en sous is voorsien en braaipakkies was te koop aangebied.  Tussendeur kon die superrugby op TV gevolg word.

Hiermee wil die leraars en die kerkraad van die AP Kerk Thabazimbi die ondersteuners van hierdie geleentheid hartlik bedank.

Die AP Kerk Thabazimbi, in die besonder ds Albert Boshoff, wil graag oom Dawie en tannie Linda Snyman bedank vir die geriewe en geleentheid om die hengelkompetisie op Jabulani te kon aanbied.  Baie dankie ook aan Tom Louw en die res van die komitee wat reggestaan het.  Nogmaals baie dankie aan die hengelaars uit ons dorp en omstreke wat hierdie geleentheid meegemaak en ondersteun het.

Uitslae:  Eerste prys:  swaarste karp – 3.739 kg gevang deur Daniël Fourie, hy wen ‘n jagpakket wat 1 blouwildebees, 1 rooibok en 1 vlakvark met verblyf vir 2 nagte vir 4 persone behels.  Tweede prys:  swaarste kurper – 0.812g gevang deur Johan du Preez,  hy wen ‘n blouwildebeeskarkas en ‘n vlakvark karkas.  Derde prys:  swaarste sak karps (maksimum van 4 karps) met ‘n gewig van 10.078kg, Hugo Penzhorn. Vierde prys:  swaarste sak kurpers (maksimum van 10 kurpers): – 6.228kg, Johan du Preez.

Daar was ook ‘n penkoppe afdeling vir laerskoolkinders.  Die penkoppe het geen karps gevang nie.  Die prys vir die swaarste kurper gaan aan Ruan Jordaan met ‘n gewig van 0.586g, hy wen ‘n gazebo en 2 kampstoele.  Die prys vir die swaarste sak kurpers (maksimum van 10 kurpers) met ‘n gewig van 4.370g is gewen deur Willem van der Merwe. Foto’s deur Willem (Wiela) Botha.