General

Happy Feet vir Huis Immergroen

THABAZIMBI – Die projek Happy Feet vir Huis Immergroen het sy ontstaan te danke aan ‘n bekende plaaslike langafstandatleet, Luzaan Combrink, wat alreeds die teerstrate van Thabazimbi asook elders aan die brand hardloop en alreeds gehardloop het.

Soos ons as inwoners van Thabazimbi weet, is daar baie nood in en rondom ons geliefde dorpie en baie mense is betrokke by hierdie spesifieke nood.  Almal van ons het nie altyd dieselfde “roeping” nie en word nie altyd op dieselfde manier aangespreek met die woord “NOOD” nie.  Huis Immergroen is ‘n tuiste vir bejaardes/bejaardesorg wat tans in aanbou is.  As gevolg van opgedroogde fondse, staan die bouprojek tans stil.  Die beraamde kostes om die tuiste klaar te maak is ongeveer R500 000, wat die projekspan huidiglik nie het nie.  Hierdie werk behels die installering van plafonne, verf van mure, vloerafwerkings, ruitglas installasie ens.

Maar Luzaan/hierdie atleet  het verseker die Opdrag gekry om hierdie jaar haar wedlope tot en met die Comrades wat in Meimaand plaasvind, op te gee vir Huis Immergroen.  Die wedlope wat alreeds suksesvol afgelê is, is ‘n Ultra Driekamp wat bestaan uit 1.9 km swem, 90 km fietsry en 21.1km hardloop, ‘n week later het sy deelgeneem aan De Loitte Marathon met ‘n afstand van 42.2km.  Die 19e Maart was dit die Old Mutual Om die dam met ‘n afstand van 50 km.  Eerskomende Saterdag, 23 April is dit die ongelooflike Twee Oseane Ultramarathon (56 km) met sy uitstaande gees op die roete en dan die 29ste  Mei is dit die Comrades met ‘n afstand van 89.9 km.  In totaal is dit ‘n  afstand van 350 km.

Enige belangstellendes wat hierdie projek wil ondersteun kan haar X-bedrag per kilometer borg, en is welkom om haar te kontak by 082 5937 084.