General

Expo Wild veiling met Thabazimbi Wildlife Services en Vleissentraal

THABAZIMBI – Thabazimbi Wildlife Services se eerste wildsveiling van die jaar vind op Vrydag, 29 April by die Thabazimbi Skouterrein plaas, en val saam met die jaarlikse Thaba Expo wat by Thaba Park op 29 en 30 April aangebied word. Thabazimbi Wildlife Services het ‘n jaar gelede sy deure in Thabazimbi op die skougronde geopen.  Louis Trichardt, eienaar van hierdie gespesialiseerde bedryf en ou bekende gesig van Thabazimbi, staan sterk in die wildbedryf en het meer as 10 jaar ondervinding in wildvang.

Thabazimbi is gekies vir die oprigting van die nuwe bomas wat opgerig is by die skougronde, aangesien Thabazimbi en omgewing bekendstaan as ‘n wilds mekka. Die wildshokke is opgerig juis vir die gemeenskap om hulle wild vanaf Thabazimbi te bemark as sentrale punt. Die oprigting van hierdie hokke (bomas) is voorwaar ‘n aanwins vir die gemeenskap.

Wildsveilings is ‘n metode om oortollige wild van boere te vang en aan te hou in die bomas om te herverkoop.  Daar is twee metodes van bemarking naamlik om deur middel van ‘n katalogus, wild op veiling aan te bied en of alternatiewelik word wild by voorkeur vanuit die hokke verkoop. Die wild in die wildshokke word soos hulle daar in lewende lywe is, op veiling aangebied. Die doel van katalogus veiling is om die meer duursame of skaars wild te koop aan te bied om vervoer en risiko te verminder. Die nodige merk en versekering van die dier op die katalogus word verseker deur verskeie metodes aan die koper, sodat die koper wel dit kry waarvoor hy betaal en verwag na aanleiding van die katalogus, beskrywing en foto.

Die wild kan in die nuwe hokke (bomas) reeds vanaf 9:00 op die dag van die veiling besigtig word. Voornemende kopers kan by Thabazimbi Wildlife Services se splinternuwe kantore langs die bomas op die skougronde registreer. Ten tye van die veiling sal daar eetgoed en ‘n kontantkroeg beskikbaar wees. Uitstallers kan van die geleentheid gebruik maak om hul ware ten toon te stel, kontak Thabazimbi Wildlife Services asseblief direk.

Om 11:00 sal die wildsveiling begin, aangebied deur Vleissentraal Bosveld.  Na afloop van die veiling sal die wild afgelewer word aan die onderskeie nuwe eienaars deur Thabazimbi Wildlife Services.