Armand Hofmeyr by Expo

THABAZIMBI – Een van die nuweling kunstenaars by hierdie jaar se Wild en Toerisme Expo is Armand Hofmeyr, die seun van legendariese Steve Hofmeyr. Armand Hofmeyr wou nie ‘n sanger word nie! Maar, wanneer daar na die krag van sy stem geluister word, wonder jy hoekom nie? “Ek het regtig geen begeerte gehad om daardie mikrofoon aan te durf nie,” het hy gesê met ‘n eerlikheid wat hom reg van die begin af onderskei. Hy sou eerder agter die skerms welslae wou behaal. Hy het reeds stewige agtergrond as ‘n DJ opgedoen en hy het hom as ‘n klankingenieur bekwaam. Hy het wel bietjie met werklikheidstelevisie geëksperimenteer, maar Armand het nie doelbewus die kollig gesoek nie. “My pa het vir my ‘n klawerbord gekoop toe ek nog baie jonk was, maar al wat ek daarmee wou doen, was om dit uitmekaar te ruk om by die luidsprekers uit te kom om vas te stel hoe dit werk,” het hy erken.

Maar, wat moes wees, moes wees. Dit is immers hoe dit is – met die dinge waarby Steve Hofmeyr betrokke is! Talent kan bloot nie onderdruk word nie. Toe, in 2008, tydens een van sy lewende DJ-optredes, is Armand aangemoedig om die mikrofoon te neem – én te sing!

Wel, hy het nog nooit voor ‘n uitdaging gehuiwer nie. Toe sing hy: vier uur ononderbroke!. “Ek het talle backtracks op hy rekenaar gehad en die mense het net aanhou vra vir liedjies en ek het net aangehou en aangehou en aangehou,” het hy met groot geesdrif vertel. Op daardie oomblik het Armand besef hy hét musiektalent en, wat ook al gebeur, hy moes dit bloot skaaf, vorm en benut. Die resultaat is ‘n mengsel van wydtreffende rock en pop, gesprinkel met polsende dansritmes: onmiskenbaar Armand Hofmeyr. So het Armand se debuut CD gedurende 2010 die lig gesien genaamd Foto’s en briewe met liedjies soos “Hart in twee wil deel”. Die twaalf liedjies uit sy pen is met sorg verwerk en geregisseer deur die bekroonde vervaardiger Marius Brouwer. Armand se jeugdige aanslag, ‘n stem wat soms rasper en rock, dan weer met ballades bekoor en heeltyd met die siel van die lied boei, plaas hom onteenseglik op die trefferleer! Wat in die toekoms wag, is dalk groter as wat selfs Armand nou al besef. Kom sien hierdie nuwe talent in lewende lywe by die Expo op Vrydag 29 April wanneer hy om 18:30 op die hoof verhoog gaan optree.