AfriForum gaan volstoom voort met saak teen Malema

AfriForum gaan volstoom voort met sy haatspraaksaak teen Julius Malema en sal nie afsien van die standpunt dat Malema se gebruik van die “Skiet die Boer”-slagspreuk haatspraak is nie. Die ANC het in geen stadium in die verlede aangedui dat hulle met AfriForum hieroor in gesprek wil tree nie.

AfriForum Jeug se vorige pogings om met Malema hieroor te praat, is met arrogansie en dreigemente begroet. Die ANC se ommeswaai om nou in die hof aan te dui dat hulle nog altyd met AfriForum hieroor wou praat, is ‘n skynheilige poging om hulleself as billik en versoenend aan die hof voor te hou.

As oplossingsgerigte organisasie, is AfriForum natuurlik bereid om gesprekke met die ANC te voer om die gebruik van haatslagspreuke te staak, maar ons gaan nie die hofsaak aflas weens vae beloftes van gesprekke nie. Malema se getuienis moet afgehandel word. Wanneer die hof Donderdag vir ‘n paar weke verdaag vir die voorbereiding van finale argumente, sal AfriForum wel met die ANC in gesprek tree. Indien die ANC volhard in sy standpunt dat Malema kan voortgaan om die “Skiet die Boer”-slagspreuk op roekelose wyse te gebruik en die gesprekke op niks uitloop nie, sal die hof voortgaan om uitspraak oor die saak te lewer.

AfriForum is 100% oortuig daarvan dat die besluit om Malema in die hof tot verantwoording te roep, die regte besluit was. Malema en die ANC se onverdraagsaamheid teenoor minderhede, sal nie verdwyn indien ‘n mens dit bloot ignoreer nie. Minderhede in Zimbabwe se ignorering van Mugabe se polariserende uitsprake, het dit nie laat verdwyn nie, maar eerder die weg gebaan vir Mugabe om sy rassistiese uitsprake sonder enige teenstand in die praktyk toe te pas. Om te verhoed dat dieselfde hier gebeur, moet ons nou ferm standpunt teen Malema se haatspraak inneem.

AfriForum het geslaag met sy eerste doelwit met die Malema-saak, naamlik om Malema en die ANC se rassistiese onverdraagsaamheid teenoor minderheidsgemeenskappe uit te wys. Ironies genoeg het Malema, Winnie Mandela en hulle ondersteuners buite die hof, self eiehandig toegesien dat hierdie doelwit bereik is, deur die ANC se rassisme en onverdraagsaamheid prakties buite die hof te demonstreer. Swaar gewapende wagte wat poog om gematigdes te intimideer, die uiting van haat-slagspreuke en ander walglike gedrag buite die hof, sê meer van Malema en die ANC se rassisme as wat enige getuie in die getuiebank kon doen. Die hofsaak bied ‘n platform aan Malema om homself en die ANC te diskrediteer. Dit is ‘n platform vir die ANC om sy ware kleure te wys, vir almal om te sien, insluitend die buitelandse media.

Malema se tirades dien as verdere motivering vir AfriForum om met groter vasberadenheid die organisasie se tweede doelwit te bereik, naamlik om Malema tot verantwoording te roep. AfriForum plaas ‘n sterk saak voor die hof en ons is vol vertroue dat geregtigheid sal seëvier.