Regter verbied vuurwapens in hofgebou

Die regter in die haatspraakgeding tussen die burgerregte-inisiatief Afriforum en mnr. Julius Malema het vanoggend alle vuurwapens in die hofgebou verbied. “Dit het onder my aandag gekom dat mense vuurwapens in en buite die hof dra. Ek sal nié vuurwapens in my hof duld nie,” het regter Colin Lamont gesê.

Dít kom nadat Malema gister ‘n groep swaar gewapende sekuriteitswagte buite die Suid-Gautengse hooggeregshof in Johannesburg, waar die hofsaak plaasvind, wag laat staan terwyl hy die verrigtinge binne bygewoon het.

Afriforum daag Malema voor die hof oor sy volgehoue sing van die haatliedjie Dubula íbhunu (Skiet die Boer).

Lamont het omstreeks 10:45, terwyl mnr. Ernst Roets, adjunkvoorsitter van Afriforum, onder kruisverhoor getuig het, die verrigtinge onderbreek en beveel enigiemand wat ‘n vuurwapen by hulle het, moet dadelik die hofsaal verlaat.

“Dit is nie net ‘n bedreiging vir die getuies nie, maar ook vir my,” het hy beslis gesê.

Roets het vanoggend getuig Malema ís ‘n rassis nadat die vraag aan hom gestel is. Malema “word beskou as iemand wat nie veel ooghare vir witmense het nie,” het hy aan adv. Vincent Maleka SC, Malema se regsverteenwoordiger, gesê.

Volgens Roets voel hy is bedreig deur Malema, onder meer omdat dié al in die verlede stellings gemaak  het dat hy bereid is om dood te maak vir Zuma.

Die saak word regstreeks op etv en Solidariteit Radio uitgesaai. Dit is vir die volgende twee weke op verhoor en altesaam twaalf getuies gaan deur die verskillende partye geroep en gekruisondervra word.

AfriForum se regsverteenwoordiger sê die saak is van nasionale belang omdat dit ‘n openbare debat oor die wese van die Suid-Afrikaanse demokratiese bestel en die plek van minderhede daarin inlui.  “Ons sal met die hofaansoek toets wat die plek is van ‘n benadering van wedersydse respek en verdraagsaamheid in Suid-Afrika,” het Spies gesê.