Meeste glo “Skiet die boer” is haatspraak

Navorsing wat onlangs deur TNS Research Surveys (PTY) gedoen is wys dat 74% van Suid-Arikaners dink dat “Skiet die boer” haatspraak is. Slegs 18% stem nie saam nie en 8% sê hulle weet nie. Die oorgrote meerderheid van alle rassegroepe voel dat die liedjie nie gesing moet word nie.

TLU-SA se vraelys wat tussen 28 Maart en 8 April op hulle webblad verskyn het, wys dat 98,88% van respondente saam stem dat die liedjie as haatspraak geklassifiseer kan word.

Intussen het die saak teen die ANC-jeugliga-leier, mnr. Julius Malema Maandag in die gelykheidshof in Johannesburg begin. Malema sal poog om met sy 16 prokureurs te bewys dat die sing van  “skiet die boer” nie haatspraak is nie.

AfriForum en die TLU SA  sal in die hofsaak eis dat Malema R50 000 aan ’n traumafonds vir slagoffers van plaasmoorde betaal. Die twee organisasies voer aan dat dié lied en uitsprake daaroor as haatspraak verklaar moet word, en hulle hoop dat Malema beveel sal word om die individue en groepe wat deur dié lied en uitsprake geraak is, onvoorwaardelik om verskoning sal vra.

Verder versoek hulle ook die hof om ’n interdik teen Malema in te stel wat hom verbied om iets te doen of sê wat onenigheid tussen rasse kan veroorsaak. – LiN Nuus/Bosveld Bulletin