Boere, werkers kan per SMS kla, vra

POLOKWANE – Boere en plaaswerkers in Limpopo kan voortaan hul probleme en klagtes aanmeld by ’n SMS-blitslyn van die departement van landbou.

Me. Dipuo Letsatsi-Duba, LUR van landbou, het dit onlangs bekendgemaak tydens die departement se begrotingstoespraak in die wetgewer in Lebowakgomo. Die departement het ’n begroting van R1,494 miljard rand.

Boere en plaaswerkers kan ook navrae oor projekte van die landboudepartement na die SMS-lyn stuur.

Letsatsi-Duba het gesê haar departement gaan 11 185 nuwe werksgeleenthede in die volgende boekjaar skep. Hiervan sal 2 000 poste by die Makgoba-teelandgoed in Magoebaskloof en 2 500 poste by die Tshivase-teelandgoed in die Vhembestreek geskep word.

Sowat 400 werkers is besig om bosse uit te kap by die Makgoba-teelandgoed. Die teeplantasies, wat eers as Sapekoe bekend was, is in 2009 in ’n grondeis aan die Makgoba-stam gegee.

Die landgoed is die afgelope ses jaar in onbruik, grootliks weens binnegevegte van die Makgoba-stam. Hulle moet besluit of hulle weer tee hier wil verbou of avokado’s wil plant.

Die projek om die bosse te verwyder, sal uitgebrei word en aan 1 000 mense werk gee.

Die landboudepartement sal R5 miljoen beskikbaar stel vir boere wat deur onlangse vloedskade getref is. Dit is ’n druppel aan die emmer van die R60 miljoen skade wat tydens onlangse vloede aangerig is.

Die SMS-lyn se nommer is 32553.

Bron: Beeld