Alom bekende verloor stryd teen kanker.

THABAZIMBI – Phillip Roedolf Alers of beter bekend in die omgewing as Oom Boet Alers is op Sondag 10 April na ‘n kort siekbed op die ouderdom van 74 jaar oorlede. Oom Boet is op 12 Julie 1937 in Rustenburg gebore en het op De Put naby Northam grootgeword. Boerdery was sy lewe en hy het in die vroeë tagtigerjare in Van Wykskraal gevestig waar hy met gesaaides en beeste geboer het. Gedurende Desember 2010 het hy olik geraak en is in Januarie met kolon en klier kanker gediagnoseer. Die familie wil graag Helpende hande, Dr Du Plessis en veral vir Johan Alers bedank vir al hul hulp en bystand gedurende hierdie tyd. Oom Boet laat sy broer Stoffel, twee skoonsusters en sy lewensmaat Martie agter. Die begrafnis vind vandag 15 April om 11:00 vanuit die Hervormde Kerk Thabazimbi plaas.