Aksiebelaaide familienaweek met Expo
THABAZIMBI – Thabazimbi is een van die vinnigste groeiende toerismebestemmings in Suid Afrika, met sy wonderskone natuur tonele, bosveld atmosfeer en wild. Die jaarlikse Thaba Expo vind hierdie jaar plaas op 29 en 20 April en besoekers kan staatmaak op ‘n aksie-belaaide familienaweek by Thaba Park in Thabazimbi.
Soos vorige jare beloof dit om ‘n feestelik affêre te wees met hope top kunstenaars en opwindende aktiweite om na uit te sien. Daar is ‘n potjiekoskompetisie, 4×4 modderritte, ‘n bok-slag kompetisie om slegs ‘n paar te noem. Elke jaar word daar ook aandag verleen aan wildbewaring deur ‘n demonstasie wat gelewer word om die publiek meer bewus te maak van die vele bedreigde spesies. Hierdie jaar word daar ‘n reptiel demonstrasie aangebied op Vrydag 29 April om 14:00 op die hoof verhoog.
Musiekliefhebbers kan uitsien na nuwe sterre, sowel as ou gunstelinge soos Radio Kalahari Orkes, Gerhard Steyn, Valiant Swart, Karen Zoid, Nianell en Izak Davel.
Hierdie topmusiekante is egter slegs een van die ongelooflike trekpleisters wat die naweek by Thaba Park sal bied. Daar is ‘n wye verskeidenheid gehalte stalletjies om deur te snuffel – iets waarvoor die Thabazimbi Wild en Toerisme Expo al bekendheid verwerf het.
Vir die kinders is daar ‘n verskeidenheid prettige aktiwiteite wat hulle kan geniet. Daar is mallemeuleritte, waterballe, reksprong(bungee trampoline jump) en vir die wat hul moed wil toets, is daar selfs ‘n verfbal skiet baan.
Die toegangfooi beloop R40 per persoon vir Vrydag 29 April en R60 per persoon vir Saterdag 30 April. Alternatiewelik kan ‘n kaartjie vir die hele naweek gekoop word wat R80 beloop. Kaartjies kan by die hek of aanlyn gekoop word by www.ticketbreak.co.za