Aida bied agente bekostigbare opleiding
Nasionale eiendomsmaatskappy Aida gaan tot die redding kom van alle eiendomsagente met lang diensjare agter die rug maar wat nog nie hul portefeuljes ter erkenning van vooraf-verworwe kennis voltooi het nie en vir wie gewone opleidingskoste hoog is.
“Vanjaar is agente wat voor Julie 2008 geregistreer is se laaste kans om die verpligte NQF4- of NQF5-kwalifikasie deur erkenning van vooraf-verworwe kennis te bekom,” sê Aida se uitvoerende hoof, Young Carr, “en ons wil dié agente onverwyld help.
“Ons bied die agente, in samewerking met Ditasa*, nou beoordeling, bystand en voorbereiding om die nodige portefeuljes van bewese ervaring saam te stel en enige gapings in hul opleiding reg te stel – teen die helfte van die normale fooie vir sulke kursusse.
“Agente sal ook toegelaat word om die koste oor drie maande te betaal sodat hul kontantvloei nie gestrem word nie, al moet hulle werkstyd inruim om klasse by te woon. En dié aanbod is oop vir enige geregistreerde eiendomsagent, ongeag van by watter maatskappy hulle in diens is.”
Agente wat versuim om hul portefeuljes teen die einde van die jaar te voltooi sal saam met agente wat na Julie 2008 geregistreer is die standaard NQF4- en NQF5-kursusse moet voltooi. Agente het grasie tot die einde van 2013 om dié kwalifikasies te behaal.
“Agente wat hul kwalifikasies vinniger wil behaal, kan egter onmiddelik vir die toepaslike kursusse wat deur Ditasa aangebied word, inskryf en sal ook toegelaat word om die kursusgelde oor verskeie maande af te betaal.”
Ditasa het opleidingsentra regdeur die land.
Agente kan Ditasa by 0861 348 272 of helpdesk@ditasa.co.za vir nadere besonderhede skakel.
Uitgereik deur Aida National Franchises
Aida hoofkantoor: 012 682 9600
Skakelpersoon: Young Carr
http://www.aida.co.za/messages/newsDetails/817a8120-91dc-c814-adfc-9e600297d99a/1