General

“Skiet die Boer”-dreunsang tot in hofsaal gehoor

Terwyl dr. Anne-Marie Gray, ‘n deskundige getuie van AfriForum, in die Suid-Gautengse hooggeregshof getuig het van hoe ‘n groep deur die sing van ‘n liedjie soos Dubula (i)Bhunu (Skiet die Boer) opgesweep kan word, het ondersteuners van mnr. Julius Malema dié kreet só hard oor luidsprekers gesing dat dit tot in die hofsaal waar die verrigtinge plaasvind, gehoor kon word.

Hof 8A, waar die haatspraakverhoor teen Malema tans onderweg is, is aan die ander kant van die gebou op die agtste vloer van die Suid-Gautengse hooggeregshof (sittend as die gelykheidshof) in Johannesburg.

Verrigtinge het vanoggend vlot verloop, alhoewel daar kort voor 14:00 ‘n klein stormloop was soos ondersteuners van Malema en hofpersoneel die gebou probeer betree het ná middagete. Sowat 1 500 mense het teen gistermiddag buite die hof betoog.

Enkele Malema-ondersteuners het deurgedruk en deur die hofingang gehardloop, vermoedelik om plek te kry in die hofsaal.

In die saal, wat weereens stampvol was, was adv. Muzi Sikhakhane van Malema se regspan besig om Gray te kruisondervra.

Gray het getuig die sing van die lied kan mense wat slagoffers van moorde was, seermaak as hulle dit hoor.

“As jy sien hoe ‘n groep mense, verenig in ‘n doel, saamstaan en daardie lied sing met soveel vreugde op hul gesigte…dit maak seer,” het sy aan Sikhakhane getuig in antwoord op ‘n vraag wat hy aan haar gestel het.

Gray het ‘n meestersverhandeling getiteld “Struggle-liedere, met spesiale verwysing na dié wat deur die ANC, PAC en Inkatha-Vryheidsparty (IVP) gesing is”. Sy was vir lank ‘n dosent in musiekopvoedkunde by die Universiteit van Natal en is tans ook ‘n deeltydse lektor op dieselfde vakgebied by die Universiteit van die Vrystaat.

Gray het die omstrede liedjie (wat volgens haar eerder dreunsang as ‘n liedjie is) die eerste keer in 2010 gehoor, het sy getuig.

“Ek kan verstaan hoe hulle (die ANC en ANC Jeugliga) sê dit is deel van hul geskiedenis, maar hoe voel mense wat slagoffers van plaasmoorde was? Ek voel self ongemaklik as ek daardie lied hoor en ek het niemand gehad wat ‘n slagoffer van misdaad was nie.”

Tydens die verrigtinge, wat vandag in sy derde dag is, het Gray getuig sy vind sommige krete “ontstellend” en “kwetsend” en dat wit mense dit nie altyd verstaan nie.

“Malema bedoel dit dalk op ‘n opregte manier, maar aan die persoon wat daarna luister, is dit nie opreg genoeg nie. Die liedjies kan op ‘n minder skadelike manier gesing word.

“Ek is ‘n Christen en ek voel God het ons almal gemaak en ons moet bymekaarkom om iets spesiaals van dié land te maak,” het Gray getuig.

Die saak duur voort.